SportSport

Luiperds soek oorwinning teen SWD Arende op Olënpark

Merk gerus op Vrydae ’n mooi rooi merk in jou dagboek vir die komende twee maande, want vanaf 25 Augustus gaan daar om 16:00 aksiebelaaide Luiperd-rugby by Olënpark in die gesogte Curriebeker Eerste Divisie plaasvind. Die Luiperds is slaggereed vir die nuutste rugbyhoofstuk in 2017 en vir ’n slag is daar baie meer as net …

Merk gerus op Vrydae ’n mooi rooi merk in jou dagboek vir die komende twee maande, want vanaf 25 Augustus gaan daar om 16:00 aksiebelaaide Luiperd-rugby by Olënpark in die gesogte Curriebeker Eerste Divisie plaasvind.

Die Luiperds is slaggereed vir die nuutste rugbyhoofstuk in 2017 en vir ’n slag is daar baie meer as net ‘n trofee op die spel.

Vanjaar het die Curriebekerreëls so verander dat die wenner van die Eerste Divisie in promosie/relegasie wedstryde teen die melkkoei van die Curriebeker se Premier Divisie sal speel.

Indien die Luiperds so ’n wedstryd wen bevind hulle hulself volgende jaar saam met die groot kanonne in die Curriebeker-kompetisie.  Dit kan groot finansiële inspuitings vir die unie en goeie blootstelling aan die spelers bied.

Vir nou moet die Luiperds egter eers fokus op hulle openingswedstryd teen die SWD Arende op Olënpark hierdie Vrydag om 16:00.

Die Luiperds wat verlede jaar as naaswenners, en in 2015 as Eerste Divisiewenners gekroon is, sal alles wil gee om weer bekerglorie te proe. Luiperds afrigter, Jonathan Mokuena, was juis aan die verloorkant in verlede jaar se eindstryd teen die Griffons en sal nie weer daardie bitter pil wil sluk nie.

“Die manne se kondisionering is hierdie jaar stukke beter en met ‘n lang 9 weke voorseisoenprogram glo ek dat hulle nie kan wag om Vrydag te begin speel nie. Daar is ‘n groot honger vir plekke in die span en baie spelers was teleurgesteld toe hulle nie die begin 15-tal haal nie,” het Mokuena vertel.

’n Belangrike aspek waarop Mokuena gefokus het was die Luiperds se verdediging nadat hulle in vanjaar se Supersport Uitdaagtoernooi baie drieë gelek het.

“Ons het aan ons lynspoed in die verdediging gewerk en een van ons doelwitte, buiten om natuurlik die trofee te wen, is om die minste drieë in die kompetisie af te staan. Die manne is reg vir die uitdaging teen die onvoorspelbare SWD Arende wat hou daarvan om die bal rond te gooi,” sê Mokuena.

Juan Language gaan die span weer lei en met sy ervaring en kragtige spel behoort hy soos gewoonlik ‘n goeie voorbeeld te stel.

Luiperds teen Arende: Tapiwa Mafura, Jimmy Mpailane, Elden Schoeman, Henko Marais, Gene Willemse, Gerhard Nortier, Chriswill September, Juan Language (kapt), Marno Redelinghuys, Gideon van der Merwe, Walt Steenkamp, Stairs Mhlongo, Panda Dekker, Dane van der Westhuyzen, Joe Smith. Reserwes: Chukkie van der Westhuizen, Morné Strydom, Loftus Morrison, Jeandré Rudolph, Wessel Kuhn, Schalk Hugo, Bradley Moolman.

Luiperds bepalings: 

Die Luiperds begin môre (25 Augustus) teen die SWD Arende op Olënpark en ingang is gratis. Hekke maak alreeds 12:00 oop waar ‘n reeks voorwedstryde gaan plaasvind. *Al die Luiperds se tuiswedstryde is in drukskrif.

Vrydag 25 Augustus: Luiperds teen SWD Arende – Olënpark (16:00)

Saterdag 2 September: Boland teen Luiperds – Montagu (14:00)

Vrydag 8 September: Luiperds teen OP Kings – Olënpark (16:00)

Vrydag 15 September: Luiperds teen Namibië – Olënpark (16:00)

Saterdag 23 September: Grens teen Luiperds – Oos-Londen (15:00)

Vrydag 29 September: Luiperds teen Griffons – Olënpark (16:00)

Saterdag 7 Oktober: Valke teen Luiperds – Kemptonpark (15:00)

Saterdag 14 Oktober: Semi-finaal

Saterdag 21 Oktober: Finaal

Die Luiperds se Curriebeker Eerste Divisiegroep is gereed vir aksie in hulle openingswedstryd teen die SWD Arende Vrydag op Olënpark.
Die Luiperds se Curriebeker Eerste Divisiegroep is gereed vir aksie in hulle openingswedstryd teen die SWD Arende Vrydag op Olënpark. Foto: Wouter Pienaar

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Potchefstroom Herald in Google News and Top Stories.

wouterpienaar01

I am the editor of the Potchefstroom Herald since January 2026. I have a keen interest for sport and local community news. I have more than a decade of experience covering various beats. Journalism is a lifestyle.

Related Articles

Back to top button