Luiperds moet Welwitschias trap hierdie Vrydag op Olënpark
Die Luiperds speel hulle tweede tuiswedstryd in ‘n ry hierdie Vrydag teen Namibië se Welwitschias in die Curriebeker Eerste Divisie en sal met ‘n nuwe nommer 10, Schalk Hugo, begin. Hugo, wat vanjaar meeste van die tyd tweede viool vir Gerhard Nortier moes speel, kry nou ‘n kans nadat laasgenoemde sy skouer verlede naweek teen …

Die Luiperds speel hulle tweede tuiswedstryd in ‘n ry hierdie Vrydag teen Namibië se Welwitschias in die Curriebeker Eerste Divisie en sal met ‘n nuwe nommer 10, Schalk Hugo, begin.
Hugo, wat vanjaar meeste van die tyd tweede viool vir Gerhard Nortier moes speel, kry nou ‘n kans nadat laasgenoemde sy skouer verlede naweek teen die OP Kings beseer het.
Die Luiperds sal met baie selfvertroue teen Namibië uitdraf, nadat hulle vir OP gemaklik met 57-20 geklop het.
Die Luiperds stut, Joe Smith, het ‘n driekuns in dié wedstryd behaal. Luiperds breier, Jonathan Mokuena, was tevrede met sy span se vertoning en glo dat hulle wel nog aan ‘n paar aspekte moet werk.
“Dit was verblydend om te sien hoe die manne van die begin af ingeklim het. Dit is belangrik om heeltyd daardie wurggreep te hou en om teen Namibië met goeie vaste fasette te oorwin,” meen Mokuena.
As die spel sou los raak, dan sal Namibië se ervare losskakel Theuns Kotze, sowel as die gevaarlike buitesenter, Lesley Klim, die Luiperds behoorlik toets.
Dié wedstryd skop om 16:00 af. Daar is ook twee voorwedstryde waar die Luiperds se o.19 en o.21-spanne vir OP aanpak.
Die o.19’s speel om 12:30, terwyl die o.21’s om 14:00 afskop.
Luiperds versus Welwitschias: 15. Lungelo Goza; 14. Jimmy Mpailane, 13. Justin Newman, 12. Bradley Moolman, 11. Gene Willemse; 10. Schalk Hugo, 9. Chriswill September; 8. Jeandré Rudolph (kaptein), 7. HP Swart, 6. Boela Venter, 5. Walt Steenkamp, 4. Stairs Mhlongo, 3. Panda Dekker, 2. Dane van der Westhuysen, 1. Joe Smith. Reserwes: 16. Marius Stander, 17. Francois Jacobs, 18. Loftus Morrison, 19. Marno Redelinghuys, 20. Wessel Kuhn, 21. Elden Schoeman, 22. Dean Gordon.



