Luiperds se jong o.19 en o.21 spanne behaal vyftigtal oorwinnings teen OP Kings
Albei die Luiperds se o.19 en 0.21 spanne het Vrydagmiddag (15 September) op Olënpark met oorwinnings teen die OP Kings weggestap. Die Luiperds o.19-span onder Hannes Esterhuizen het hulle derde wen vanjaar behaal met 52-20 teen ‘n OP Kings span wat hard probeer het , maar nie die nodige skietgoed teen ‘n hegte Luiperds-span gehad …

Albei die Luiperds se o.19 en 0.21 spanne het Vrydagmiddag (15 September) op Olënpark met oorwinnings teen die OP Kings weggestap.
Die Luiperds o.19-span onder Hannes Esterhuizen het hulle derde wen vanjaar behaal met 52-20 teen ‘n OP Kings span wat hard probeer het , maar nie die nodige skietgoed teen ‘n hegte Luiperds-span gehad het nie.
Die Luiperds se sterspelers was hulle slot Jeandré Leonard en flank Ruben Dreyer wat twee uitstekende solodrieë gaan druk het. Die skrumskakel Cameron Dorfling, linkervleuel Azi Afrika, sy vleuelmaat Ishaad Snyman, sowel as binnesenter Bernu Engelbecht het agter die pale gaan kuier om ‘n welverdiende vygtigtal vir die jong Luiperds op die telbord te sit.
Dylan Schoeman, die broer van senior Luiperd, Elden Schoeman, het die laaste sê gehad met ‘n drie net voor die eindfluitjie.
Vir OP was hul flank Mandisi Mthiyane skitterend met sy twee drieë.
Luiperds o.19 foto’s:
Die o.21’s het hulle losskakel Tokkie Kasselman se in die kol skopvoet te danke vir hulle 56-40 oorwinning, nadat Kasselman al sewe drieë vervyf het.
Die Luiperds se verdediging het op verskeie kere krake gewys met die OP wat soms te gemaklik gaan druk het. Die OP was in hierdie wipwa wedstryd, verskeie kere voor, maar moes op die ou einde teen die Luiperds swig wat in die laaste 10 minute ‘n ekstra rat gekry het.
Luiperds o.21 afrigter André Pretorius se bloeddruk het effens gestyg na hierdie wipwa wedstryd waar sy span talle kere voor en agtergeloop het.
Pretorius se span was sterk voorlangs en het twee puik drieë vanaf die lynstaan met ‘n losgemaal gaan druk. Die stut, Botter Moloto was indrukwekkend, en het twee drieë ingepalm.
Ander driedrukkers vir die Luiperds was Milo Rheeder, Monkey Mathaba, Jandré Grobler, Robert hunt en Damon Ross Lee.
Marco Donges was ook een van die ysters op binnesenter vir die Luiperds, wat met bebloede neus en al sy 100% gegee het.
Vir die OP Kings het Hayden Tharatt, Keanu Vers, Davian Swanepoel en die skittrerende linkervleuel Josiah Twum-Baofo oorgduik. Twun-Baofo het ‘n driekuns gaan druk en het die hele wedstryd probleme met sy spoed en krag gegee.






















