Pukke vind ekstra rat om plek in derde agtereenvolgende Varsity Netbal-eindstryd te bespreek
Uitstekende taktiek en gebruik van die Powerplay-periode het NWU-Pukke van ‘n kop aan kop wedstryd met Kovsies na ‘n gemaklike 53-37 oorwinning in die 2017 Varsity Netbal-halfeindstryd teen Kovsies in Bloemfontein vanaand gelei . Sodoende het Pukke weer ‘n afspraak met Tukkies in die eindstryd volgende Maandag (9 Oktober) in Pretoria in ‘n herhaling van …
Uitstekende taktiek en gebruik van die Powerplay-periode het NWU-Pukke van ‘n kop aan kop wedstryd met Kovsies na ‘n gemaklike 53-37 oorwinning in die 2017 Varsity Netbal-halfeindstryd teen Kovsies in Bloemfontein vanaand gelei .
Sodoende het Pukke weer ‘n afspraak met Tukkies in die eindstryd volgende Maandag (9 Oktober) in Pretoria in ‘n herhaling van verlede jaar se Varsity Netbal-eindstryd.
Pukke moes vir vanaand se halfeindstryd weer Bloemfontein toe reis vir hulle kragmeting teen Kovsies wie hulle verlede week 48-44 geklop het.
Die wedstryd was van die staanspoor af baie naby gewees met altwee spanne wat nie al hulle kaarte op die tafel wou lê nie.
Kovsies se Getriana Retief het weer ‘n goeie wedstryd op doel vir Kovsies gehad en saam met Meagan Roux het hulle die doele ingepalm.
Kovsies was uitstekend op die verdediging en Khomotso Mamburu het baie druk op Pukke geplaas. Pukke het wel in die tweede kwart meer veggees gewys en begin beheer neem.
Met die telling 20-20 teen halftyd was sake kop aan kop en enige span kon die voortou neem. Pukke het toe die inisiatief geneem toe Dorette Badehorst ‘n paar taktiese skuiwe gemaak het en vir Simoné Rabie en Sigi Burger ingebring het.
Jessica du Plessis, wat in die eerste 30 minute net ‘n 55% slaagsyfer onder die net gehad het, het in die tweede helfde haar akkuraatheid aansienlik verbeter en doele een vir een ingeryg.
Burger het haar verskyning vanjaar vir die eerste keer gemaak en in die kalklig van ‘n groot halfeindstryd haar staal gewys.
Haar teenwoordigheid het kalmte en sekerheid vir Pukke gegee en toe hulle 6 doele in die Powerplay periode aanteken was die telling skielik aan hulle kant.
Die derde kwart het Pukke gedomineer en Kovsies met 18-6 in die 15-minuuut periode baasgeraak om met 38-26 voor te loop.
Monique Reyneke was ook uitstekend op die verdediging gewees en in tandem met die speler van die wedstryd, Zandré Erasmus, het hierdie twee spelers Kovsies se kanse versmoor.
“Ons het geweet dat die wedstryd teen Kovsies moeilik sou wees, maar die gebruik van die Powerplay het vir ons goed uitgewerk en die wedstryd laat wen,” het Erasmus na die wedstryd genoem.
Foto’s: Asem Engage









