SportSport

Rudolph reik na nuwe rugbyhorisonne met skuif na Pumas

‘n Mens besef eers gewoonlik hoe kosbaar iets is wanneer dit nie meer in jou besit is nie. Dit is presies die leemte wat in die Luiperds en NWU-Pukke se rugbyharte gevoel sal word met hulle kaptein en staatmaker, Jeandré Rudolph, wat sy rugbyloopbaan by ’n ander katfamilie gaan voortsit. Potchefstroom se verlies is Nelspruit …

‘n Mens besef eers gewoonlik hoe kosbaar iets is wanneer dit nie meer in jou besit is nie.
Dit is presies die leemte wat in die Luiperds en NWU-Pukke se rugbyharte gevoel sal word met hulle kaptein en staatmaker, Jeandré Rudolph, wat sy rugbyloopbaan by ’n ander katfamilie gaan voortsit.
Potchefstroom se verlies is Nelspruit se wins met Rudolph wat eersdaags in die Pumas se pienktruie gaan uitdraf. Dit volg nadat hy verlede maand ‘n kontrak met die Pumas geteken het met die doel om sy kanse vir Curriebekerrugby sowel as oorsese rugby te versterk.
Tesame met die opwinding van ‘n nuwe begin gevul met geleenthede en uitdagings, is daar tog ‘n tikkie heimwee in Rudolph se hart. Hy het sy stempel in Potch as ‘n 2016 Varsitybekerwenner, Luiperdsrugbykaptein en die Rugbyinstituut se Speler van die Jaar in 2016 afgedruk.

Jeandré Rudolph
Jeandré Rudolph

“Die skuif is ‘n goeie opsie omdat dit een van die groter unies is waar ek meer speelkans sal kry. Daar is wel uitstekende losvoorspelers, so ek sal my beste spel moet speel om span te maak. “Ek dink dit sal vir my persoonlik ‘n goeie kopskuif wees om uit Potchefstroom te kom, omdat daar rugbygewys vir my niks verder hier is om te bereik nie. Ek sal wel almal mis wat ‘n impak op my gemaak het, soos Oom Mervyn (Taylor) van die rugbyinstituut wat soos ‘n tweede pa vir my was,” noem Rudolph.
‘n Mens stem natuurlik saam met Rudolph, aangesien hy vir vyf jaar lank letterlik elke groot toekenning en trofee, hetsy vir die universiteit of die Luiperds, bereik het. Wie sal sy drieë, stormlopies en natuurlik sy breë glimlag met die Varsitybekertrofee in sy hand kan vergeet?
“Natuurlik was daardie Varsitybekerfinaal die hoogtepunt van my rugbyloopbaan tot dusver. Dit was so nodig om daardie jaar die beker te wen. Ek was verskriklik verlig toe Rhyno Smith die bal deur die pale skop om ons te laat wen na Marno se drie. Ek dink nie eers ek het opgespring nie. Ek het net dankie gesê. Ek stres nou meer as ek weer daarna kyk!” lag Rudolph.

Pukke bo: Jonathan Mokuena en Jeandré Rudolph staan trots met die beker. Foto: Mario van de Wall.
Pukke bo: Jonathan Mokuena en Jeandré Rudolph staan trots met die 2016 Varsitybeker. Foto: Mario van de Wall.

Hierdie agtsteman glo ook dat 2016 juis sy beste jaar was, met die dat hy as beide Luiperds en die Rugbyinstituut se Speler van die Jaar aangewys is. Hy glo dat toekennings juis as speler jou motiveer dat jy in die regte rigting beweeg. “Alles het net daardie jaar uitgewerk. Om nie toekennings te kry nie, beteken nie dat jy ‘n slegte seisoen gehad het nie. Ander spelers het net ‘n beter jaar gehad, soos Loftus Morrison en Walt Steenkamp wat vanjaar toekennings gekry het en ek is saam met hulle bly,” noem hy.
“Ek dink my doelwitte het ook baie verander vandat ek op die Puk gekom het. Ek wou eers net Luiperds o.19 speel en toe van daar af het ek vinniger senior Luiperds gespeel as wat ek gedink het. Om onder Robert du Preez en James Small vir die Luiperds te speel, was goed vir my loopbaan en persoonlike groei. Jy het presies geweet waar jy staan saam hulle. Rob en Jaco Pienaar was beide groot invloede op my loopbaan,” noem hy.
Rudolph was nog altyd ‘n speler wat sy hart en siel op die veld gegee het en vir die wapen op sy bors gespeel het. Wanneer die NWU-Pukke en Luiperds se vurige agtsteman en kaptein ‘n rugbytrui oor sy kop trek, gee hy altyd 100 persent.

Die uitstekende agtsteman Jeandré Rudolph is gisteraand (1 Desember) by die Luiperds jaareindfunksie as die unie se speler van die jaar bekroon. Hier ontvang hy sy trofee van Andre May, President van die Luiperds Rugbyunie.
Die uitstekende agtsteman Jeandré Rudolph is op (1 Desember 2016) by die Luiperds jaareindfunksie as die unie se speler van die jaar bekroon. Hier ontvang hy sy trofee van Andre May, President van die Luiperds Rugbyunie. Foto: Wouter Pienaar

“Ek is baie rustig voor ‘n wedstryd en sal myself in die week voor die tyd gereed maak om met volle intensiteit die wedstryd te speel.
Ek weet presies wat ek moet doen en hoe ek dit moet doen. Ek dink nie ek sit te veel druk om myself nie. Ek hersien my doelwitte om harder te werk in die moeilike tye,” verduidelik hy sy mentaliteit. Verder het hy ook in sy tyd as speler bewys dat hy ‘n oog vir die drielyn het, veral vanjaar toe hy die Luiperds se voorste driedrukker in die Curriebeker Eerste Divisie was. “Ek dink ek was vanjaar op die regte tyd en op die regte plek. Die span het meer die werk gedoen en dit is steeds ‘n groot voorreg om drieë te druk.”
Met die Pumas wat aan sy deur kom klop het, is die kanse goed dat groter unies en oorsese spanne ook binnekort vir Rudolph in hulle visier sal hê – iets waarna Rudolph veral opgewonde is.
“Die eerste groot doelwit sal wees om Curriebekerrugby vir die Pumas te speel. Ek sal ook graag wil Superrugby speel en dan die geleentheid vat om oorsee te speel daarna. Ek het grootgeword met Superrugby en die geleentheid om in daardie toernooi te speel sal ongelooflik wees.”

Agt vrae vir ‘n agtsteman

1.Wie is jou grootste rugbyvriende?
Malherbe Swart, Johan Deysel en John-Roy Jenkinson
2.Snaakste spanmaats?
Dean Stokes en Ruan Venter
3.Meeste respek vir ‘n rugbyspeler?
Beyers de Villiers, voormalige Maties kaptein
4.Gunsteling kos?
Pizza met feta, jalapeno en spek
5.Watter plek sal jy die meeste mis?
Die Fanie du Toit Sportgronde
6.Watter sport sou jy speel as jy nie rugby gespeel het nie?
Gholf, ek geniet om dit te speel, en ‘n mens kan ongelooflik baie geld maak
7.Twee spelers wie jy op ‘n rugbyveld wil ontmoet?
Richie McCaw en Corné Krige op Nuweland
8.Hoe sal jy jou tyd in Potch omskryf?
“Die vinnigste lekker tyd wat ek nie vinnig oor wil hê nie.”

Sport

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Potchefstroom Herald in Google News and Top Stories.

wouterpienaar01

I am the editor of the Potchefstroom Herald since January 2026. I have a keen interest for sport and local community news. I have more than a decade of experience covering various beats. Journalism is a lifestyle.

Related Articles

Back to top button