Totsiens aan die vlieënde Springbok – ‘n Huldeblyk aan Tom van Vollenhoven
Rugby League het die afgelope tyd wyd en syd hulde aan Tom van Vollenhoven gebring wat op 83-jarige ouderdom oorlede is. Dié voormalige Springbok word deur die Potchefstromer, Jan Prinsloo, onthou: ’n Skraal jongman met `n borselkop was Suid-Afrika se mees populêre sportman vanaf 1955 tot 1957. Tom van Vollenhoven sal onthou word as die …
Rugby League het die afgelope tyd wyd en syd hulde aan Tom van Vollenhoven gebring wat op 83-jarige ouderdom oorlede is.
Dié voormalige Springbok word deur die Potchefstromer, Jan Prinsloo, onthou:
’n Skraal jongman met `n borselkop was Suid-Afrika se mees populêre sportman vanaf 1955 tot 1957. Tom van Vollenhoven sal onthou word as die Vrystaatse boorling wat op 20-jarige ouderdom as Springbok vleuel op 20 Augustus 1955 op Nuweland in die tweede toets teen die Britse Leeus, uitgedraf en geskiedenis gemaak het.
Hy het naamlik die eerste Springbok geword om drie drieë in ’n toets te druk en in die wedstryd het hy met blote vernuf, verbysterende vaart en systappe, vir sy gevierde wêreldklas Ierse opponent, Tony O’Reilly, ore aangesit.
Hierdie dag het “The Von” soos hy later onder sy beroepsrugby vriende in die buiteland en ook as “The Flying Springbok” bekend sou staan, nie net op Nuweland nie, maar ook in die harte van duisende rugbyliefhebbers wêreldwyd sou kruip.
Tom het aan die Hoërskool Voortrekker in Bethlehem matriek geskryf en as kwekeling by die polisiekollege in Pretoria aangemeld.
Hy was ’n skitterende atleet en gimnas en sy opgang as rugbyspeler was astronomies.
Hy het eintlik as ’n 19-jarige plattelandse jongman vir ’n opskudding gesorg toe hy vir die eerste toets teen die Britse Leeus gekies is. Hierdie toets was ‘n nagmerrie vir die Vrystaatse boorling!
Die samestelling vir die tweede toets is heftig gekritiseer toe die keurders Tom weer ingesluit het, die keer op regtervleuel. Selfs die media het die besluit bevraagteken.
Die aand voor die tweede toets is Tom wat stil van geaardheid en ’n introvert was, deur die assistentbestuurder van die Leeus so in die verbygaan, sarkasties toegesnou: Hy wat Tom van Vollenhoven is, wat nie eens ’n verkoue kon vang nie, wat nog die Britse blits Tony O’Reilly, wat in die toets teen Tom sou uitdraf.”
Tom het homself verskoon en na sy kamer gegaan. Wat die dag tussen O’Reilly en Van Vollenhoven gebeur het, is in die rekordboeke vasgelê. In die 23 wedstryde wat hy in die Springboktrui gespeel het, het Tom 22 drieë gedruk.
Na hierdie wondervertoning op Nuweland, was die Britse rugbysmouse op die Suid-Afrikaner se spoor en hy moes met die mees ondenkbare verskonings vorendag kom om nie vir geld rugby te speel nie.
Dit was moeilike jare en polisiemanne het nie veel geld verdien nie. Vierduisend Engelse pond was ’n groot geelwortel en die besluit om amateurisme vir professionalisme te verruil was ’n groot besluit om te neem.
Dis algemeen bekend dat Tom die aanbod van St. Helens in Engeland aanvaar het en dat hy daarna letterlik deur baie van sy ou spanmaats afgeskryf is. Hy is as ’n “verraaier” uitgekryt omdat hy vir geld gaan speel het en as gevolg daarvan, nooit weer op Suid-Afrikaanse bodem aan rugby sou kon deelneem nie. Die Internasionale Rugbyraad was giftig teenoor geldrugby en die Suid-Afrikaanse Rugbyraad met dr. Danie Craven aan die spits as lid van die IRR, moes na gelang van die musiek dans. Dieselfde lot het ’n tiental belowende en gevierde Springbokspelers in die sestigerjare getref wat Tom se voorbeeld gevolg het.
Manne soos Jan Prinsloo (Noord–Transvaal), Hennie van Zyl, Martin Pelser, Natie Rens, Mannetjles Gericke, Oupa Coetzer, Chris Bezuidenhout, Wilf Rosenberg, Tommy Genties, Piet Botha en nog ’n Springbok, Jan Prinsloo wat vir Wakefield Trinity in Engeland uitgedraf het, is summier geskors. Voor die vertrek van die eerste Springbok Rugby Leaguespan na Australasië in 1964 was Tom al ’n gesoute beroepsrugbyspeler wat welbekend was onder amateur- en beroepspelers en as ’n gevreesde teenstander beskou is.
’n Gedig oor hom is getoonset en ondersteuners het vir meer as drie uur lank die Britse koue trotseer om die handtekening te kry van hierdie Vrystater wat na bykans 500 drieë in die eerste liga en internasionale wedstryde, na sy geboorteland sou terugkeer.
Terug in Suid-Afrika kon Van Vollenhoven nie met sy eertydse vriende skakel of kontak maak nie. Hulle is verbied om met hom kontak te maak, selfs te groet.
Dit het diep seergemaak. Sy voorspelling dat baie van ons spelers later vir geld sal speel is bewaarheid.
Vandag word spelers in Suid-Afrika soos in enge ander land vergoed om rugby te speel en Springbok se kind rol in die note!
Dat ons ontneem was van een van die beste spelers van alle tye, is nie te betwyfel nie, maar die wyse waarop die bloubloed aristrokrate van SA rugby hul rug op die gevierde oud-Springbok gedraai het, is ’n jammerte.
Van Vollenhoven se naam pryk reeds saam met ‘n paar Rugby League legendes in die heldekamer van SA League Rugby.
Namens die Suid-Afrikaanse Rugby League sal ’n dubbele Springbok Rugby League embleem aan Tom toegeken word.





