Promosa Atletiekklub wil inwoners aan die draf kry
Inwoners van Promosa kan nou uiteindelik by hulle eie atletiekklub aansluit met die stigting van die Promosa Atletiekklub. Hierdie atletiekklub gaan alle soorte atletiek insluit en nie net op marathons fokus nie. Dit is ‘n klub vir ieder en elk, jonk en oud wat die ontspanning en fiksheidsvoordele van atletiek wil ervaar. Op 16 Desember …
Inwoners van Promosa kan nou uiteindelik by hulle eie atletiekklub aansluit met die stigting van die Promosa Atletiekklub.
Hierdie atletiekklub gaan alle soorte atletiek insluit en nie net op marathons fokus nie. Dit is ‘n klub vir ieder en elk, jonk en oud wat die ontspanning en fiksheidsvoordele van atletiek wil ervaar.
Op 16 Desember gaan hierdie klub hul amptelike openingswedloop by Promosa-stadion aanbied, wat ‘n 5 kilometer wedloop deur die strate van Promosa sal behels. Atlete wat op 16 Desember by die klub registreer, se registrasiekostes sal ook spesifiek op daardie dag verniet wees.
Volgens Melvin Diedericks, voorsitter van die klub, gee hierdie klub vir inwoners die geleentheid om hul talente te kweek en by ‘n klub aan te sluit wat nader aan hulle omgewing is.
“Die goeie ding is dat mense nou by Promosa Atletieklub kan registreer en sodoende ‘n volledige lid word, het hy genoem.
Nog ’n hoofdoel vir Diedericks en die klubkaptein, Nico Deerling, is dat talent vanaf ‘n jong ouderdom ontwikkel word en dié klub maak dit toeganklik vir jong atlete om vroeg by ‘n gekoördineerde stelsel aan te sluit.
“Ons het met die bestuur van die skole in Promosa gesels en ons wil in samewerking tree om kinders in die sport betrokke te kry. Verder gaan ons ook klinieke saam met Atletiek Sentraal Noordwes (ASNW) in Promosa vanaf 3-6 Januarie aanbied. Almal in Potchefstroom is welkom om hierdie klinieke by te woon,” het Deerling gesê.
Met die stigting van die Promosa Atletiekklub is daar nou ‘n leemte wat gevul word en opwindende tye lê nou voor.
“Die belangstelling is definitief daar. Keer op keer sien jy hoe jong kinders sonder registrasienommers deelneem net omdat hulle wil hardloop. Ek kan nou al my jare se kennis en ervaring teruggee aan die gemeenskap. Dit is ons verantwoordelikheid om die sport te groei en ‘n liefde vir atletiek te kweek,” het Deerling uitgebrei.
Vir meer inligting skakel Melvin Diedericks by 083 471 9539 of Nico Deerling by 076 612 5242



