Promosa Atletiekklub reik uit na gemeenskap met insameling van skryfbehoeftes
Met die son wat stelselmatig die afgelope Saterdagmiddag op Promosa se horison gesak het, het talle lede van die plaaslike gemeenskap op die voorgrond gesit met breë glimlagte. Sommige van hulle was effens uitasem, maar hulle energie het vinnig herstel, danksy ‘n paar slukke water en koeldrank. Dit na ‘n woelige 5 kilometer-wedloop wat die …

Met die son wat stelselmatig die afgelope Saterdagmiddag op Promosa se horison gesak het, het talle lede van die plaaslike gemeenskap op die voorgrond gesit met breë glimlagte. Sommige van hulle was effens uitasem, maar hulle energie het vinnig herstel, danksy ‘n paar slukke water en koeldrank. Dit na ‘n woelige 5 kilometer-wedloop wat die Promosa Atletiekklub ten bate van die plaaslike gemeenskap aangebied het.
Die hoofdoel hier was nie om te sien wie die vinnigste en beste was nie, maar eerder om die klem op pret en gemeenskapswaardes te plaas. Talle skryfbehoeftes, wat onder meer penne, potlode, lêers, boeke en geskenkpapier ingesluit het, is ingesamel deur deelnemers aan die pretdraf wat dié skryfbehoeftes as “inskrywingsgeld” betaal het.
Kyk die foto’s hier: Foto’s – Wouter Pienaar
83 deelnemers van jonk tot oud het die roete net buitekant Promosa Stadion aangepak vir ‘n 5 kilometer sirkel roete wat ‘n paar klimme en draaie gehad het.
‘n Paar atlete het die stof behoorlik laat trek en hulle fiksheid met uitstekende tye net onder die 15 minute merk bewys. Kgori Molete was eerste, Mogomotsi Segamelo tweede en Lucas Obose het die derde plek beklee.
Volgens die Promosa Atletiekklub se klubkaptein, Nico Deerling, was hierdie skryfbehoefte-insameling gekombineerd met die pretdraf ‘n ideale geleentheid vir die Promosa gemeenskap om ‘n verskil te maak.
“Ek is beïndruk met die aantal mense wat opgedaag het vanmiddag. Veral die jongklomp wat mooi gehardloop het. Sodoende kry hulle blootstelling aan atletiek en kan dan goeie oefening ook kry,” het Deerling genoem.
Verder het Noordwes Krieket kom oë wys en hulle harte vir die gemeenskap oopgemaak met ‘n paar sakke skryfbehoeftes wat hulle geskenk het.
“Dit was ‘n groot sukses en ons is dankbaar vir almal wat bygedra het. Ons beplan ook om binnekort ons eie Promosa Parkrun hier met dieselfde roete op Saterdae aan te bied,” het die klubvoorsitter Melvin Diedericks genoem.


































































