Nege skole by vanjaar se uitgebreide Interhoër-byeenkoms
Vanjaar se Interhoër atletiekbyeenkoms gaan letterlik groter en beter as vorige jare wees met die insluiting van vier bykomende skole in vanjaar se hoërskole atletiekskouspel. Dit word Saterdag 17 Februarie oudergewoonte weer by die Kenneth McArthur Atletiekstadion gehou. Die skole wat vanjaar ingesluit is, is Hoërskool Klerksdorp, Hoërskool Rustenburg, Hoërskool Wesvalia en Diamantveld Hoërskool (Kimberley). …

Vanjaar se Interhoër atletiekbyeenkoms gaan letterlik groter en beter as vorige jare wees met die insluiting van vier bykomende skole in vanjaar se hoërskole atletiekskouspel.
Dit word Saterdag 17 Februarie oudergewoonte weer by die Kenneth McArthur Atletiekstadion gehou.
Die skole wat vanjaar ingesluit is, is Hoërskool Klerksdorp, Hoërskool Rustenburg, Hoërskool Wesvalia en Diamantveld Hoërskool (Kimberley). Hulle sal dan saam met die ander vyf skole, Potchefstroom Gimnasium, Hoër Volkskool Potchefstroom, Potchefstroom Girls High en Potchefstroom Boys High en Hoërskool Lichtenburg kompeteer.
Hierdie nege skole vorm deel van ‘n nuwe fase vir skoleatletiek, waar die grootkoppe van die bekende Varsity Sports onder die vaandel van School Sports, ‘n nuwe groeperingsisteem vir Interhoër byeenkomste vorendag gekom het.
Die top 100 skole in die land in hulle onderskeie provinsies of streke neem sodoende teen mekaar deel by een groot Interhoër-byeenkoms.
Nuwe trofeë en tradisies word sodoende vanjaar geskep met Potchefstroom Gimnasium wat hierdie byeenkoms as gasheer skool aanbied.
Gimmies is ook tans die Interhoërkampioene van die vorige 5-skoolformaat en die voormalige Triomf-trofee gaan wel vir eers in die trofeekabinet bly.
Volgens Gimmies se sportorganiseerder, Arnold van der Merwe, gaan die bykomende skole help om die aansien van die byeenkoms te verhoog en ook atlete die kans gee om hulself teen die beste in die provinsie te toets.
“My wens word vanjaar waar met die dat al die groot skole in ons distrikte en provinsie teen mekaar by ons Interhoër deelneem.
“Dit maak net meer sin dat daar een groot byeenkoms is. Ek sien uit daarna,” het hy genoem.



