Nuwe hoofstuk vir Mokuena se manne in 2018 Varsitybeker
Die 2018 NWU Varsitybekerspan is verfris, energiek en reg om nie net ’n nuwe blaadjie om te slaan nie, maar sommer ’n nuwe hoofstuk in vanjaar se Varsitybeker te skryf. Vir die 2018 weergawe van Suid-Afrika se grootste universiteitsrugbyskouspel het die Pukke ’n nuwe kaptein in die vorm van die belowende flank, Tiaan Bezuidenhout. Bygesê …
Die 2018 NWU Varsitybekerspan is verfris, energiek en reg om nie net ’n nuwe blaadjie om te slaan nie, maar sommer ’n nuwe hoofstuk in vanjaar se Varsitybeker te skryf. Vir die 2018 weergawe van Suid-Afrika se grootste universiteitsrugbyskouspel het die Pukke ’n nuwe kaptein in die vorm van die belowende flank, Tiaan Bezuidenhout.
Bygesê is daar ook ’n stroom jong bloed en ook ou ervare hande wat ‘n groot verskil wil maak. Hierdie span is nou vir die derde jaar in ’n ry onder leiding van afrigter, Jonathan Mokuena, wat na ’n moeilike 2017 weer sy energieke self lyk vir dié belangrike rugbyjaar.
Potchefstroom Herald het met Mokuena gaan gesels oor die Varsitybeker wat op Maandag 29 Januarie tuis teen CUT begin, die veranderinge in die span, asook wat hy dink sy span weer na bekerglorie sal lei:
Herald: Vanjaar is Tiaan Bezuidenhout as kaptein gekies. Wat was die rede rondom dit. Voel julle hy het goeie leierskapsvaardighede?
“Tiaan is een van daardie ouens wat van vooraf lei. Hy sluit baie goed aan by die spelers en die spelers luister as hy praat.
Op die ou einde was dit vanselfsprekend dat ons hom sou kies, alhoewel Walt (Steenkamp) en Chucky (Louis van der Westhuizen) ook goeie kanse gestaan het.
Ek is gemaklik met Tiaan en ek en hy het ‘n goeie verhouding. Hy het in die verlede gewys wat hy kon doen toe hy vir die Luiperds teen die ou honde uitgedraf het. Ek glo dit het sy selfvertroue verder gehelp.
Herald: Watter aspekte van die voorseisoenvoorbereiding was vir jou ‘n positiewe punt?
“Ons as bestuur sê baie keer vir die spelers wanneer ons by oefensessies op kontak fokus of aldan nie en vanjaar het die spelers behoorlik ingeklim. Baie van die jong spelers kom van die o.19 en o.21 Luiperds se Curriebekergroepe af en om hulle koppe te swaai dat hulle werklik waarde toevoeg was ‘n uitdaging.
Tog glo ek vanjaar het ons baie harde werk ingesit en ek is baie bly waar ons as span nou is.”
Herald: Vanjaar het Pukke ‘n relatiewe nuwe span met slegs ‘n handvol spelers wat weer terug in die span is. Voel jy die balans van die span is reg?
“Ek dink die senior spelers het verlede jaar effens gemaklik geraak en ek glo dat die nuwe bloed in die span hulle juis ook sal aanspoor om hulle plek te behou. ‘n Ou soos AK Nela is ook gretig om sy staal te wys en hy klop aan die deur. ‘n Ervare speler soos Henko Marais word sodoende ook op sy tone gehou. So vir my is dit goed as daar kompetisie vir plekke in die span is.
Herald: Watter jong spelers kan ondersteuners voor uitkyk vanjaar?
“Ons het vanjaar vir Percy Mngadi van WP op haker ingekry en ‘n goeie toevoeging is ook om Dean Gordon as agterspeler in die groep te hê. Nog iemand om voor uit te kyk is Evardi Boshoff, wat ‘n jong speler is wat ek glo ‘n groot impak gaan hê.
Herald: Wat is jou benadering vanjaar ten opsigte van die wedstryde en hoe gaan jy jou doelwit bereik om weer die Varsitybeker te wen?
“Vanjaar gaan ons fokus om baie harde werk in die voorbereiding in te sit. Sodoende gaan die spelers gereed wees vir wat in die wedstryde gebeur. Ons eerste doelwit is om die semi-finaal te haal en op ons prosesse te fokus. Ons gaan vanjaar baie krities op die klein foute wees sodat die groter goed in plek sal val.
Ons het ook vir Johann Laker terug en hy sal op die verdediging fokus. Verdediging is maar sy passie en ek glo hy voeg groot waarde toe. André Pretorius en Jean Tiedt is ook weer deel van die afrigtingspan, so dit is dieselfde bekende gesigte.”
Herald: Jou gevoelens oor die nuwe Powerplay-reël?
“Dit is iets waarvoor ons ‘n plan het, maar ons gaan nie net op daardie drie minute fokus waar ons 15 teen 13 man moet speel nie. Ek bedoel, daar is nog 77 minute oor in ‘n wedstryd. Dit was ook ‘n voordeel dat ek my Sewes-agtergrond kon gebruik om planne vir die Powerplay te maak.”




