NWU honger vir tweede Varsity Krieketoorwinning
Die Varsity Krieketbeker en Red Bull Wêreldkampuskrieket-trofee staan tans trots in die NWU krieketspan se afrigterskantoor na ‘n uiters suksesvolle 2017. Met die uitsig so oor die krieketveld is dit werklik ‘n mooi gesig en een wat hierdie universiteit met die koms van die 2018 Varsity kriekettoernooi sal wil behou. In 2018 sal dit die …
Die Varsity Krieketbeker en Red Bull Wêreldkampuskrieket-trofee staan tans trots in die NWU krieketspan se afrigterskantoor na ‘n uiters suksesvolle 2017.
Met die uitsig so oor die krieketveld is dit werklik ‘n mooi gesig en een wat hierdie universiteit met die koms van die 2018 Varsity kriekettoernooi sal wil behou.
In 2018 sal dit die universiteit se Varsity krieketspan se eerste taak wees om die trofee vir nog ‘n jaar te wen en Potchefstromers soos laasjaar te laat juig en jubel.
Die toernooi vind vanaf 29 Januarie tot 3 Februarie plaas met die tuisspan wat as verdedigende kampioen die gunsteling sal wees. Boonop sal die kern van die span ook dieselfde bly met Conrad de Swardt en Niel Bredenkamp wat afrigtersposisies beklee.
Die voormalige Proteaspelers, Johan van der Wath en Neil McKenzie gaan ook onderskeidelik met boul en kolfwerk help om die spelers 100 persent gereed te kry.
Die enigste groot verandering aan vanjaar se span is die verlies van hulle staatmakerkaptein, Wihan Lubbe, sowel as Hanco Olivier wat hulle graad voltooi het en sodoende nie vir die toernooi in aanmerking kom nie. Marques Ackerman het ook ‘n kontrak met die KwaZulu-Natal krieketunie gesluit en sal ook nie vanjaar deelneem nie.
Niel Bredenkamp, afrigter van die NWU se Varsitykrieketspan glo wel dat hulle vanjaar ‘n sterk groep spelers het en dat daar nie ekstra druk in hulle kamp as kampioene is om weer die beker te kan lig nie.
“Om eerlik te wees, sou ek sê die enigste werklike druk kom maar van die plaaslike gemeenskap af. Om ‘n toernooi soos Varsitykrieket te wen, gaan nie maklik wees nie. Ons stel wel vir onsself ‘n baie hoë standaard om weer die toernooi te wen. Ons probeer om nie te veel druk op die spelers self te sit nie. Hulle weet wat hulle wil hê en die motivering is natuurlik daar om weer te wen,” het Niel Bredenkamp een van die afrigters genoem.
“Die universiteite is tans die voedingsisteem vir die provinsiale spanne en hierdie toernooi gee ongelooflike blootstelling vir die spelers wat vyf jaar terug nie die geval was nie. Ek glo die senior spelers sal die jonger ouens rustig kry om met die individuele druk te hanteer.”
Een van die faktore wat ‘n wen sal bemoeilik is die wisselvallige natuur van T20-krieket waar oomblikke en prestasies op ‘n dag met beide bal en kolf die wedstryd kan swaai.
“Ons het baie veelsydige spelers en ek glo dat die toestande op die dag sal bepaal watter kombinasies ons sal gebruik. T20-krieket is onvoorspelbaar en ons sal nie byvoorbeeld vaste planne hê en eerder van verskillende opsies gebruik maak,” voer Bredenkamp aan.
Volgens Bredenkamp sal daar ook geen maklike wedstryde wees nie, aangesien elke span met meriete hulle plek verdien. CUT is die nuwelinge nadat hulle Kovsies in ‘n uitspeelwedstryd geklop het en volgens Bredenkamp is CUT ietwat van ‘n onbekende eenheid.
“Elke span het op ‘n dag ‘n kans om ‘n verrassing te veroorsaak, veral as mens kyk na UWC wat twee jaar gelede in die eindstryd gespeel het, en niemand het hulle ‘n kans gegee nie. So, ja ons sal elke wedstryd ons alles moet gee. Bredenkamp noem ook dat hy veral tevrede was met hoe die kolwers verlede jaar intelligent gekolf het en nie net elke bal uit die stadion wou moker nie. Hy glo die taktiek om vinnig lopies deur twee’s te hardloop en balle in gapings te slaan, net so belangrik sal wees.
“Ons sal ook beslis ons veldwerk wil verbeter omdat dit maklik die resultaat van ‘n wedstryd kan bepaal.”
Met slegs vyf dae oor voor die eerste bal tussen NWU en UWC in die openingswedstryd afgelewer word, is die opgewondenheid en verwagting groot – ‘n dubbele agtereenvolgende oorwinning is nou in Pukke se hande.






