May wil weer liefde vir rugby terugbring as SARU president
Die president van die Luiperds Rugbyunie, adv. André May, glo dat hy gereed is om SA Rugby as president te lei en weer ‘n liefde vir rugby by die publiek kan kweek. Dit nadat dit verlede week aan die lig gekom het dat May sy hand opgesteek het as kandidaat vir SARU President. May sal …
Die president van die Luiperds Rugbyunie, adv. André May, glo dat hy gereed is om SA Rugby as president te lei en weer ‘n liefde vir rugby by die publiek kan kweek.
Dit nadat dit verlede week aan die lig gekom het dat May sy hand opgesteek het as kandidaat vir SARU President.
May sal sodoende teen die huidige president, Mark Alexander, by SARU se algemene raadsvergadering op 6 April in Kaapstad staan.
“Ek is lief vir rugby en ek is nie onbewus van die uitdaging wat voor my staan nie. Ek het net nie gevoel dat Mark Alexander weer die enigste kandidaat kan wees nie. Ek wil wys dat daar ook ander opsies is. Ek weet dat ek realisties ‘n skrale kans het om president te word, maar ek weet dat ek darem ‘n verskil wil maak,” verduidelik May.
Volgens May het die publiek vertroue verloor in Suid-Afrikaanse rugby en hy glo dat hy juis vir die publiek moet wys dat almal nie net in dieselfde stroom loop nie.
“Dit is belangrik om te noem dat SA Rugby presidentskap nie ‘n voltydse werk is nie.
“Ek bly ‘n praktiserende advokaat in Potchefstroom en Johannesburg en sal nie finansieel net daarop kan staatmaak nie. Ek gaan steeds in Potchefstroom bly, ongeag. As ek tot president verkies word, sal ek as die Luiperds se president moet bedank,” noem hy.
May is al sedert 2010 in die amp as die Luiperds Rugbyunie se president en hy glo dat transformasie natuurlik een van die groot besprekingspunte is. Hy meen dat finansiële beperkings en afskaffing van klubtoernooie soos die Gold Cup en amateurrugby onder andere, Suid-Afrikaanse rugby seermaak.
“Transformasie gebeur in die Kaap en die Suidkus maklik omdat daar reeds ’n belangstelling en rugbykultuur gekweek is. Hier in die Noorde sukkel ons nog steeds om daardie belangstelling te wek. Transformasie moet van onder af kom en is nie iets wat geforseer kan word nie.
“Ons kan nie net ‘n struktuur hê wat soos ‘n omgekeerde piramide bedryf word nie.
Dit moet ‘n regte piramide wees. Die voetsoolvlak moet spelers wees waar ons dan opgaan na skole, ondersteuners, klubs, unies, wêreldrugby, ensovoorts.”
“My verkiesingsveldtog is nie om klein unies te bevorder nie, dit is om rugby terug te neem na die mense toe en Suid-Afrikaanse rugby weer nommer een te maak. Ek wil aan elke unie se unieke behoeftes voldoen. Ons moet ook ons beste spanne op die veld sit.
“Ek het die mooiste gesegde gehoor wat sê: “The rising tide raises all boats” en wat dit beteken is dat as die Springbokke wen, skep dit ’n positiewe effek op alle strukture en sal alles oprig, maar ons sal realisties as rugbypubliek moet wees,” maan May.
May sal die ondersteuning van die groot unies moet kry om ‘n kans te staan.
“Daar is 14 unies, maar net 12 kan stem, aangesien OP en Grens onder finansiële bestuur by SARU is.
Elke unie het twee stemme, met die president wat een stem het. Ek het 13 stemme nodig om te wen.”





