NWU se top vyf ysters in vanjaar se Varsitybeker
Die 2018 Varsitybekerseisoen is amper op sy pylvak met nog net nog een tuiswedstryd vir die NWU teen Maties oor op Maandag, 26 Maart voor die uitkloprondtes begin. Die kanse is goed dat die NWU in ‘n tuis halfeindstryd sal speel indien hulle Maties klop, wat tot dusver ‘n uitstekende seisoen agter die rug het. …
Die 2018 Varsitybekerseisoen is amper op sy pylvak met nog net nog een tuiswedstryd vir die NWU teen Maties oor op Maandag, 26 Maart voor die uitkloprondtes begin.
Die kanse is goed dat die NWU in ‘n tuis halfeindstryd sal speel indien hulle Maties klop, wat tot dusver ‘n uitstekende seisoen agter die rug het.
Die NWU speel vanjaar as ‘n hegte eenheid met talle spelers wat hulle hande week in en week uit opsteek. Tog is daar ‘n paar spelers wat daardie ekstra bietjie x-faktor aan die span verleen vanjaar.
Hier is vyf spelers wat ‘n sentrale rol in die NWU se sukses vanjaar speel:
Schalk Hugo (Losskakel)
Die NWU se nommer een losskakel het vanjaar bewys dat ervaring en kalmte op nommer 10 handig te pas kom. Daar is ‘n groter rustigheid in Hugo se spel as vorige jare en dit lyk of hy baie meer tyd het om besluite op die aanval te neem. Sy skopvoet stel sy span ook selde teleur en op verskeie kere daardie ekstra momentum op die telbord gegee. Hugo se bereidwilligheid om beide aanvallende hardlooprugby of ‘n taktiese skop of twee uit te voer maak van hom ‘n waardevolle toevoeging in die span.

Chriswill September (Skrumskakel)
Chriswill September speel vanjaar ook kookwater rugby en “Cheese” soos hy vir sy spanmaats bekend staan, het nes Hugo vanjaar die nommer 9-trui sy eie gemaak. Sy besluitneming en oog vir ‘n gaping en geleentheid is iets wat verdedigers altyd op hulle hoede hou. Sy drie teen Shimlas waar hy met ‘n presiese tikskoppie die gapings ontbloot het, was ‘n klassieke voorbeeld van hoe sy spel jaar na jaar verbeter. Sy kombinasie met Schalk Hugo is ook soms telepaties en hierdie kombinasie is een van die redes vir die NWU se sukses op die aanval vanjaar.

Evardi Boshoff (Buitesenter)
Hierdie blitsige buitesenter is in sy debuutseisoen besig om rugbykenners se oë te laat rek met sy vaardige spel en flink oog vir ‘n gaping. Boshoff is vanjaar ‘n driemasjien en die lyne wat hy met die bal hardloop is een van die redes hoekom sy naam so baie op die telbord verskyn. Hy is ook gedurig lus vir werk en die bal in hand en is ook glad nie bang om te verdedig nie. Dié voormalige Hoërskool Lichtenburg produk is stelselmatig besig om al die talent wat hy as skoolspeler getoon het nou op die groot verhoog te volmaak.

Louis van der Westhuizen (Haker)
As daar ooit ‘n NWU speler was wat geduld en deursettingsvremoë uitgebeeld het, is dit die Namibiese rooikop, Louis “Chuckie” van der Westhuizen. Vir die afgelope paar Varsitybekerseisoene is Van der Westhuizen die tradisionele nommer 16 op die plaasvervangerbank. Vanjaar het hy sy spel opgeskerp en met ‘n ongelooflike werksverrigting veral op die verdediging en goeie werk in die lynstane sy plek in die beginspan oopgespeel.
Walt Steenkamp (Slot)
Die NWU-Rugbyinstituut se speler van die Jaar in 2017, het sy vorm behou en interessant genoeg sommer op dit verbeter ook. In 2018 is Steenkamp ‘n reusagtige figuur I ndie lynstane en op verdediging het hy al ‘n paar teenstanders klomp kere laat grasp proe. Steenkamp is ‘n ware leier in die voorry en gebruik al sy ervaring om stabiliteit om hom te skep.





