Land se beste atlete in Potch vir SA Skole Atletiekkampioenskappe
Die room van Atletiek Sentraal Noordwes se hoërskoolatlete gaan op tuisbodem vandag hulle eerste tree na medaljeglorie vat, wanneer hulle op die Kenneth McArthur Stadion hulself teen die land se beste meet. Dit is weer daardie tyd van die jaar wanneer die topatlete regoor Suid-Afrika aan die SA Skole Atletiekkampioenskappe deelneem wat vanaf 22 tot …
Die room van Atletiek Sentraal Noordwes se hoërskoolatlete gaan op tuisbodem vandag hulle eerste tree na medaljeglorie vat, wanneer hulle op die Kenneth McArthur Stadion hulself teen die land se beste meet.
Dit is weer daardie tyd van die jaar wanneer die topatlete regoor Suid-Afrika aan die SA Skole Atletiekkampioenskappe deelneem wat vanaf 22 tot 24 Maart gehou word om die land se kampioene op die baan en veld te kroon.
Dié plaaslike atlete sal beslis die plaaslike toestande en ondersteuning tot hulle voordeel wil gebruik met huidige kampioene wat ook hulle titels sal wil verdedig, of hierdie keer op die rostrum wil staan.
Gimmies se Miandi van Staden is die huidige SA kampioen in die 100 en 200 meter en sal graag weer die stof in die dogters o.16-kategorie wil uithardloop. Ander naellopers van Atletiek Sentraal Noordwes om dop te hou is Donevan du Toit (seuns o.19), Phemelo Molale (seuns o.14) en Zane van Staden in die hekkies items. Kayla van der Bergh van KHS kan ook gerus dopgehou word. In die lang- en middelafstande is Volkies se Cara du Preez (dogters o.17) en Robert de Villiers (seuns o.19) weer gunstelinge om met medaljes weg te stap. Danielle Verster (dogters o.15) van Gimmies kan ook vir ‘n verrassing of twee sorg met die goeie familiegene van haar ouers, Jean en Alta Verster.

Volgens die stadionbestuurder van Atletiek Sentraal Noordwes, Richardo Ellis, is hy opgewonde oor die komende SA Skole Kampioenskappe wat die naweek plaasvind.


“Ons kyk in die omgewing van 6 000 toeskouers wat gaan inkom. Daar gaan heel moontlik regstreekse uitsendings, sowel as direkte resultate ook beskikbaar wees,” noem hy.
“Ek is opgewonde oor die 100 en 400 meter wedlope. Ons verwag goeie aksie. Ek dink algeheel gaan dit ‘n uitstekende byeenkoms wees. Die weer mag ons dalk bietjie vang, maar ek hoop en vertrou dat ons steeds sal aangaan, al is die kondisies buite ons beheer.
“Ons is opgewonde oor die kampioenskappe om weer te wys dat Potchefstroom ‘n groot nasionale atletiekkampioenskap kan aanbied.
“As Atletiek Sentraal Noordwes nie nommer een vat nie, sal ons nommer twee vat. Ons mik beslis vir top 3,” het Ellis bygevoeg.
Ingang sal weer R30 per persoon wees. Daar sal parkering by die stadion wees, as ook by Potchefstroom Boys High en omliggende areas.



