SportSport

Volkies se Van Zyl’s behaal SA atletieksukses

‘n Liefde vir atletiek borrel uit Hoër Volkskool Potchefstroom en Atletiek Sentraal Noordwes se puik atlete, Rikus en Anina van Zyl, wat by die afgelope ASA Senior Atletiekkampioenskappe in Pretoria vanaf 15-17 Maart, puik prestasies behaal het. Hierdie boetie en sussie het albei aan uitdagende en uitmergelende meerkamp-items deelgeneem met Rikus wat die tienkamp aangepak …

‘n Liefde vir atletiek borrel uit Hoër Volkskool Potchefstroom en Atletiek Sentraal Noordwes se puik atlete, Rikus en Anina van Zyl, wat by die afgelope ASA Senior Atletiekkampioenskappe in Pretoria vanaf 15-17 Maart, puik prestasies behaal het.
Hierdie boetie en sussie het albei aan uitdagende en uitmergelende meerkamp-items deelgeneem met Rikus wat die tienkamp aangepak en ‘n bronsmedalje ingepalm het en Anina wat vyf van haar persoonlike beste rekords gebreek het.
Wat hierdie familie-sukses nog meer merkwaardig maak, is dat albei omtrent vir ‘n jaar aan meerkamp deelneem. Die Van Zyl’s het hulle eie atletiekpaadjie eers werklik in die Hoërskool begin stap – iets wat deesdae nie baie gebeur nie, omdat atlete al van laerskool af begin skitter.
“In 2016 het ons vir Richardo Ellis, ons afrigter, ontmoet en dit is waar alles vir ons begin het. Richardo het ons eers in individuele items gehelp en later het ons besluit om op meerkamp te fokus,” noem Anina.
Volgens die Van Zyl’s is dit hulle voorliefde vir adrenalien en om heeltyd besig te wees wat hulle na meerkamp getrek het.
“Ons albei dink ook anders as gewone mense. Nie almal is bereid om meerkamp te doen nie en dit vat ongelooflik baie dissipline, deursettingsvermoë en harde werk,” sê Rikus, wat die 400 meter verkies.

Rikus van Zyl (regs) is in die wolke saam met sy afrigter, Richardo Ellis na sy bronsmedalje in die mans o.20 tienkamp.
Rikus van Zyl (regs) is in die wolke saam met sy afrigter, Richardo Ellis na sy bronsmedalje in die mans o.20 tienkamp.

“Dit help baie om ‘n broer te hê wat mens motiveer en grappies maak. Dit is goed om iemand te hê wat verstaan waardeer jy gaan,” noem Anina, wie se gunsteling item die 200 meter is.
“Party dae stamp ons kop, maar dit is ook ‘n manier hoe ons mekaar motiveer. Tydens ‘n strawwe oefensessie het ek vir my sussie gesê: ‘If the mind can think it, the body can do it.’ Dit het ons al baie gehelp. Natuurlik is al die aanmoediging wat ons by ons ma (Maritha) kry ook baie belangrik. Soms verloor mens kop en dan is ma daar om ons reg te ruk en net weer op die doel te fokus,” noem Rikus.

Anina van Zyl tydens die SA Nasionale Atletiekkampioenskappe in die sewekamp vir vroue o.20.
Anina van Zyl tydens die SA Nasionale Atletiekkampioenskappe in die sewekamp vir vroue o.20.

“Ons bedank ook die biokinetikuste en fisioterapeute by die Sentrum vir Sportgeneeskunde en ortopedie. Spesifiek Barend Steyn, Japie Kruger, Lau Maré Naudé en Lambert Fick sonder wie se volgehoue ondersteuning ons nie hierdie mylpale kon bereik nie,” noem Anina.
Die 2018 SA’s was albei Rikus en Anina se tweede SA’s en hierdie keer het Rikus die podium behaal nadat hy verlede jaar uitgemis het. Hy skryf hierdie verbetering toe aan ervaring en net nog meer harde werk wat hy ingesit het. “Ek het op klein goed gefokus met verskillende items. Ek het vanjaar baie met diskus verbeter en dit het my kans gegee om meer punte te bou. Ek is baie tevrede met my derde plek,” noem hy.
Richardo is ook baie tevrede met hoe hulle op die hoogste vlak in SA hulle staal gewys het. Die groot doel is nou om op 2020 te fokus waar albei atlete alles sal insit om hulle doelwitte te behaal.
“Hulle kan nou ‘n maand rus en dan begin ons met ons winterprogram, waarna ek as afrigter baie uitsien. Daar is nog baie om te doen en elke jaar is daar ‘n groot verbetering. Vir my is ‘n persoonlike beste ook gelyk aan goud. Dit wys daar is vordering en groei. Ek is meer as net ‘n afrigter en hulle sien my as familie.
“Hulle beteken vir my baie en ons het ‘n baie goeie verstandhouding waar hulle altyd met dissipline oefen, al is ek nie daar nie,” vertel Richardo.
“Hulle kan hulself op die skouer klop, want hulle is ysters,” sê hy.

Mall

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Potchefstroom Herald in Google News and Top Stories.

wouterpienaar01

I am the editor of the Potchefstroom Herald since January 2026. I have a keen interest for sport and local community news. I have more than a decade of experience covering various beats. Journalism is a lifestyle.

Related Articles

Back to top button