SportSport

NWU en Maties gereed vir titaniese Varsitybekerstryd

‘n Reuse Varsitybekerstryd vind hierdie Maandag 26 Maart in Potchefstroom plaas, wanneer die NWU teen die onoorwonne Maties op die Fanie du Toit Sportgronde te staan kom. Normaalweg is enige NWU en Maties rugbywedstryd ’n tradisionele vurige kragmeting, maar Maandag is daar ‘n paar ekstra bestanddele by die rugbypotjie gevoeg – en hy prut reeds …

‘n Reuse Varsitybekerstryd vind hierdie Maandag 26 Maart in Potchefstroom plaas, wanneer die NWU teen die onoorwonne Maties op die Fanie du Toit Sportgronde te staan kom.
Normaalweg is enige NWU en Maties rugbywedstryd ’n tradisionele vurige kragmeting, maar Maandag is daar ‘n paar ekstra bestanddele by die rugbypotjie gevoeg – en hy prut reeds lekker in afwagting die afgelope paar weke.
Die eerste bestanddeel is die terugkeer van die “verlore seuns” wat hulle heil by die Maroentruie van die Maties gaan soek het na ’n paar suksesvolle jare op die Puk.

Dit sluit in die voormalige sterspelers wat Varsitybekerglorie in 2016 na die NWU gebring het soos die flank Marno Redelinghuys, sowel as die haker, Wilmar Arnoldi wat albei briljante seisoene in Stellenbosch beleef. Die senter, Elden Schoeman het verlede jaar vir die NWU uitgedraf en sal ook uitsien na ‘n kragmeting met sy vorige spanmaats. Volgens NWU afrigter Jonathan Mokuena glo hy dat die voormalige Potch-manne dit sal geniet om weer op die Fanie te speel en dat daar geen suur gevoelens tussen die twee spanne sal wees nie.

“Dit gaan ’n taai wedstryd wees en die skare sal natuurlik in ons guns wees, wat ’n groot faktor sal wees. Ons gaan al die ondersteuning Maandagaand nodig hê,” het Mokuena beklemtoon.

Die tweede bestanddeel sal die wortel voor albei spanne se neuse wees om die groepsfase as die nommer een span af te sluit. Maties is tans een punt voor die NWU op 31 punte na 7 wedstryde, met die NWU kort op hulle hakke met 30 punte. Die NWU moet Maties klop om ’n eerste plek te behaal, en groter motivering as ’n sege teen Maties is daar nie.

Dit sal gewis nie maklik wees nie met Maties wat top rugby speel. Hulle agterlyn is blitsig en voorlangs het hulle ook die mannekrag om enige pak te ontsenu. Manne soos Edwill van der Merwe en Duncan Saal kan gate in die opposisie hardloop en flanke soos Janco Venter en Chris Massyn moet ook met valkoë dopgehou word.

Die NWU het wel ook al die spelers om Maties ore aan te sit, met Schalk Hugo se skopvoet, Tapiwe Mafura se x-faktor en senters, AK Nela en Evardi Boshoff wat gapings in Maties se verdediging kan hardloop. Voorlangs sal Walt Steenkamp en Johan Retief in die lynstane ook ’n groot sê in die wedstryd hê. Die derde bestanddeel sal die psigiese ingesteldheid wees wat albei spanne in die volle 80 minute sal moet handhaaf.

Die NWU was weer teen Wits skuldig toe hulle ‘n groot voorsprong teen halftyd amper laat vaar het in hulle 35-31 oorwinning. As die NWU wil seëvier, sal hulle koelkop rugby moet speel en Maties geen kanse gun nie. “Ons verdediging teen Wits was rotsvas en die ouens het weer alles op die spel gesit. Dit gaan als oor selfvertroue teen Maties,” het Mokuena bygevoeg. Maties sal nou ook nie te oorgerus in die wedstryd kan ingaan nie.

Hulle het nie die afgelope Maandag gespeel nie, en hulle vorige wedstryd teen NMMU is gestaak weens optogte. Die vraag bestaan of hulle na die lang pad na die Noordweste slaggereed sal wees. Opgesom is dit nommer een teen nommer twee en net een kan bo eindig. Die afskop is om 19:00.
Drie spelers om voor uit te kyk:
NWU:
• Evardi Boshoff
• Walt Steenkamp
• Schalk Hugo

Maties

• Wilmar Arnoldi
• Edwill van der Merwe
• Duncan Saal

Mall

 

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Potchefstroom Herald in Google News and Top Stories.

wouterpienaar01

I am the editor of the Potchefstroom Herald since January 2026. I have a keen interest for sport and local community news. I have more than a decade of experience covering various beats. Journalism is a lifestyle.

Related Articles

Back to top button