NWU wys veggees en klas teen UJ om plek in Varsitybekereindstryd te bespreek
Op ‘n nat en triestige Fanie du Toit Sportgronde het die NWU hul plek in die Varsitybekereindstryd bespreek met ‘n welverdiende 60-31 oorwinning teen UJ vanaand (Maandag, 2 April). Dit was ‘n wedstryd van twee helftes met die NWU wat na ‘n swak begin briljant teruggeveg het met 23 onbeantwoorde punte in die tweede helfte. …

Op ‘n nat en triestige Fanie du Toit Sportgronde het die NWU hul plek in die Varsitybekereindstryd bespreek met ‘n welverdiende 60-31 oorwinning teen UJ vanaand (Maandag, 2 April).
Dit was ‘n wedstryd van twee helftes met die NWU wat na ‘n swak begin briljant teruggeveg het met 23 onbeantwoorde punte in die tweede helfte.
Die NWU se rolmaalbewegings en taktiese spel was puik op kritieke tye en dit was deurslaggewend. Vermelding moet gegee word aan die tuisspan se veggees wanneer sake somber gelyk het. Die NWU se agterspelers het ook gekook in die tweede helfte met die linkervleuel Dean Stokes se drie net voor die strategiebreek wat UJ se wind finaal uitgeslaan het.
Die groepie UJ-skare wat na Potchefstroom gereis het was wel in ekstase in teenstelling met die doodse stilte aan die NWU-kant van die pawiljoen toe UJ ‘n 18-0 voorsprong na 8 minute geneem het, maar die NWU se veggees het op die ou einde die wedstryd gemaklik beklink.
UJ se blitsige heelagter, Ronald Brown, het die eerste drie gedruk na 2 minute met ‘n sewepunt drie, wat die NWU vir ‘n oomblik geruk het.
Kort daarna het NWU se losskakel, Schalk Hugo, se skop in Brown se hande geland waarna swak verdediging van Jimmy Mpailane en Tapiwa Mafura uitgebuit is. Brown het toe die bal in die gaping geskop wat Odwa Nkunjana uit die lug gevang het om oor te duik vir UJ se tweede drie om die telling 18-0 te maak.
Die NWU moes nou terugveg en een van die jaar se staatmakers, haker Louis van der Westhuizen, wat die eerste drie vir die tuisspan gaan druk het. Schalk Hugo verdoel om dit 18-7 te maak.
Die NWU se pak voorspelers was op hulle stukke en ‘n verwoestende rolmaalbeweging het die NWU 40 meter se grond gewen. Dit het die tuisspan instaat gestel om hulle tweede drie te druk na ‘n hulle strafskop gekry het. Die NWU se voorspelers het konstante druk toegepas en dit het gapings in UJ se verdediging gelos wat Tapiwa Mafura uitgebuit het om die tweede drie onder die pale te druk – 18-14 in UJ se guns.
Na die strategiebreek het die tuisspan ekstra energie gekry en na puik hardlooprugby en briljante hanteerwerk het Schalk Hugo afgerond met die NWU se derde drie. Hugo verdoel ook sy drie en die NWU loop vir die eerste keer met 23-21 voor.
Met 10 minute oor het UJ weer die voortou geneem na Kobus Engelbrecht sy tweede strafskop oorklits het om dit 24-23 vir die besoekers te maak
Die NWU se rolmaalbewegings en skrums was gedurig een te veel vir UJ en hulle het hierdie taktiek perfek uitgebuit toe Chriswill September oorduik na agtsteman en kaptein, Tiaan Bezuidenhout vanaf die skrum aangee. Hugo verdoel en NWU loop 30-24 voor teen halftyd.
Na ‘n verbroude lynstaan, het NWU se binnesenter AK Nela die stukke opgetel en toe soos blits die eerste drie van die tweede helfte gedruk.
UJ het toe vinnig gereageer toe hulle ‘n Powerplay roep net na die NWU se drie. Met slegs 13 spelers op die veld vir 3 minute het die manne van UJ die geleentheid benut en buitesenter, Jan-Louis le Grange is oor vir 5 punte om die telling na 6 punte te vernou na 37-31.
Die NWU het nie met skopbare strafskope pale toe geskop nie, maar eerder hulle lynstane vertrou en dit het vrugte afgewerp toe Van der Westhuizen vir sy tweede drie oorduik om die voorsprong na 12 punte te vergroot.
Stokes en die plaasvervanger skrumskakel, Nkosana Mathaba het die laaste sê met drieë vir die NWU gehad om die oorwinning behoorlik te beklink.
Punte:
NWU: 60 (30)
Drieë: Louis van der Westhuizen (2), Tapiwa Mafura, Schalk Hugo, Chriswill September, AK Nela, Dean Stokes, Nkosana Mathaba
Doelskoppe: Hugo (8)
UJ 31 (24)
Drieë: Ronald Brown, Odwa Nkunjana, Jan-Louis le Grange
Strafskoppe: Kobus Engelbrecht (2)
Doelskoppe: Engelbrecht (3)





