Nog ‘n eindstryd wag vir die NWU in Stellenbosch
Met die blaas van die eindfluitjie in die Varsitybekerhalfeindstryd op die Fanie du Toit Sportgronde die afgelope Maandag, het die NWU met hulle 60-31 oorwinning teen UJ besef dat hulle plek na die eindstryd bespreek is. Hulle het omtrent twee ure later na Maties se 65-18 sege teen Wits besef dat hulle roete na Varsitybekerglorie …

Met die blaas van die eindfluitjie in die Varsitybekerhalfeindstryd op die Fanie du Toit Sportgronde die afgelope Maandag, het die NWU met hulle 60-31 oorwinning teen UJ besef dat hulle plek na die eindstryd bespreek is.
Hulle het omtrent twee ure later na Maties se 65-18 sege teen Wits besef dat hulle roete na Varsitybekerglorie weer eens in Stellenbosch gesetel is.
Vanjaar se Varsitybekereindstryd gaan op Maandag 16 April in die Eikestad op Maties se Doc Craven Stadion beslis word en sal ’n herhaling van die 2016 Varsitybekereindstryd wees. Daardie jaar het die NWU toe 7-6 gewen, en Maties sal sekerlik vanjaar nie weer ’n herhaling wil hê nie.
Eers sal albei spanne wel ‘n week se ruskans hê om hulself slaggereed vir die grootste wedstryd van hulle loopbane tot dusver te maak.
Rus is dalk nie die regte woord nie, aangesien albei spanne steeds kliphard sal oefen en psigies rotsvas wil wees in die opbou tot dié groot stryd.
Beide Maties en NWU het puik rugby in hulle halfeindstryde gespeel met drieë wat in albei wedstryde gereën het. Reën is die toepaslike woord vir die NWU wat in hulle sege teen UJ eers in die nat weer gegly het met ’n paar paniekerige oomblikke in die eerste vyf minute voordat hulle soos ’n vol rivier deur UJ se verdediging gebars het.
Foto’s: Barco Greeff
Die NWU was 18-0 agter, maar het toe hulle klas en kalmte bewys om ’n ommekeer in moeilike toestande te maak en op die ou einde gemaklik te wen.
Die NWU se kaptein, Tiaan Bezuidenhout, was ook in sy noppies na sy span se vertoning en hy glo dat kalmte en eenheid sy span deur daardie moeilike dele van die halfeindstryd gelei het.
“Die bal rol nie altyd na jou kant toe nie en dit is belangrik om dan koel en kalm te bly.
“Ons het net besluit dat ons rustig gaan wees en dat daar nog baie tyd in die wedstryd oor is.”
Die spel van die voorspelers, veral in die losgemaal en rolmaalbeweging, het die span ekstra energie gegee en Bezuidenhout meen dat dit ook ’n sneeubaleffek gehad het in die algehele selfvertroue van die span.
“Toe die voorspelers eers begin speel en ons ‘n paar drieë druk, het die agterspelers ook beter gespeel. Een van die beste aspekte van ons span is dat daar ’n sterk leierskapgroep is. Ek as kaptein kan staatmaak op raad van ervare ouens soos Louis van der Westhuizen en Chriswill September,” noem Bezuidenhout.
Drieë van Louis van der Westhuizen (2), Tapiwa Mafura, Schalk Hugo, Chriswill September, AK Nela, Dean Stokes en Nkosana Mathaba het UJ oordonder. Die NWU losskakel, Schalk Hugo was ook op sy stukke en met ‘n 100 persent skoprekord het hy met die Speler van die Wedstryd-toekenning weggestap.









