SportSport

Onverwags trap plaaslike bergfiets-ster sy eerste Cape Epic plat

In sy eerste Absa Cape Epic Bergfiets skofresies vanaf 18-25 Maart vanjaar, het die plaaslike bergfietskampioen, Pieter du Toit, so ‘n paar keer klippe gekou, maar op die ou einde vuur en vlam in die algehele 26ste plek geëindig. Wat Du Toit se prestasie nog meer merkwaardig maak, is dat hy slegs twee dae voor …

In sy eerste Absa Cape Epic Bergfiets skofresies vanaf 18-25 Maart vanjaar, het die plaaslike bergfietskampioen, Pieter du Toit, so ‘n paar keer klippe gekou, maar op die ou einde vuur en vlam in die algehele 26ste plek geëindig.
Wat Du Toit se prestasie nog meer merkwaardig maak, is dat hy slegs twee dae voor die tyd geweet het dat hy aan dié wedren sou deelneem. Du Toit was reeds in die Kaap nadat hy Suid-Afrika in die Wêreld Bergfiets Kampioenskappe in Stellenbosch verteenwoordig het, wat ’n week voor die Epic plaasgevind het.

“My grootse uitdaging vir die Epic was dat ek nie geweet het dat ek dit gaan ry nie! Ek is eers twee dae voor die wedren gevra of ek dit wil doen. My plan was eintlik om die wedren te gaan kyk, maar toe het een van die hoof fietsryers siek geword. Ek het geen voorbereiding gedoen nie, maar tog ja gesê en vir hom ingestaan,” vertel Du Toit opgewonde.

Dit is ‘n groot prestasie vir die voormalige Volkskool leerder en SA Junior Bergfietskampioen, wat saam met sy ervare spanmaat, Phillimon Sebona, vir die Pyga Eurosteel span in ’n tyd van 28:17.17 klaargemaak het.

Altesaam het Du Toit en Sebona 653 kilometer uitgetrap wat 13 530 meter se klimwerk ingesluit het teen ’n gemiddelde spoed van 23.08 kilometer per uur.

Pieter du Toit het vir die Pyga Euro Steel-span gery en saam met Philimon Sebona algeheel 26ste geëindig. Foto: Graham Daniel Photography
Pieter du Toit het vir die Pyga Euro Steel-span gery en saam met Philimon Sebona algeheel 26ste geëindig. Foto: Graham Daniel Photography

Hierdie bergfietsren wat oor agt dae en sewe skofte plaasvind, word as bergfiets se eie Tour de France bestempel. Du Toit kan nou met ‘n medalje om sy nek uit ervaring vertel wat ’n uitdagende en asemrowende ervaring dit was.

“Ek was die jongste deelnemer aan vanjaar se Cape Epic en dit was vir my ‘n ongelooflike ervaring. Ek het saam met Phillimon in ’n span gery en dit het baie gehelp omdat hy geweet het wat kom. Dit was sy sesde Epic gewees en daardie ervaring het my ook deurgedruk. Ons het goed saamgewerk om algeheel 26ste te eindig,” verduidelik du Toit. “Die beste deel van die Epic was toe ek en Phillimon by die eindstreep stop en toe hoor dat die hoof ryers vir wie ons as ondersteuning gery het, die Afrika-trui gewen het,” noem hy.

Phillimon Sebona en Pieter du Toit kap dit uit in die hitte.
Phillimon Sebona en Pieter du Toit kap dit uit in die hitte.
Pieter du Toit vat die Cape Epic aan.

Na so ‘n groot en uitdagende ervaring het Du Toit ook ’n paar nuwe lesse geleer wat hy beslis sal toepas wanneer hy weer die wêreld se bekendste bergfiets skofresies aanpak. “Jy moet lang ure in die saal insit en die grootste berge gaan soek en by hulle opry, want dit is wat daar is! Jy moet ook leer hoe om tegniese enkelpaadjies te ry! Daar is baie in die Epic.

Bo en behalwe moet jy dit net geniet, anders kan dit ’n baie lang dag word,” gee Du Toit raad. “Volgende keer gaan ek meer voorbereid wees en wil graag my posisie verbeter.”

Mall

Related Articles

Back to top button