NWU Prestigereeks: Volkies se eerste rugbyspan vat brons, Liggies is weer wenners
Die Fanie du Toit Sportgronde is al sinoniem met taai naelbyt wedstryde en vandag (Saterdag, 5 Mei) by die NWU Prestigereeks rugbyeindstryde is hierdie reputasie vir klipharde wip-wa wedstryde weer eens beklemtoon. In die eindstryd om die eerste en tweede plek het Hoërskool Lichtenburg vir Hoërskool Middelburg met 20-17 geklop. Hierdie eindstryd kon enige kant …

Die Fanie du Toit Sportgronde is al sinoniem met taai naelbyt wedstryde en vandag (Saterdag, 5 Mei) by die NWU Prestigereeks rugbyeindstryde is hierdie reputasie vir klipharde wip-wa wedstryde weer eens beklemtoon.
In die eindstryd om die eerste en tweede plek het Hoërskool Lichtenburg vir Hoërskool Middelburg met 20-17 geklop. Hierdie eindstryd kon enige kant toe gegaan het met altwee spanne wat kop aan kop die volle 60 minute was.
Lichtenburg se Andrew Keen en Ryan Burger het hulle span se twee drieë gedruk terwyl Max Williamson koelkop met sy skopskoen was. Middelburg se ster was heelagter, Coenraad Visser, wat al die punte vir sy span aangeteken het.
Foto’s: Wouter Pienaar
Visser het twee drieë, een strafskop en twee doelskoppe deur die pale gesit om sy span hoop te gee.
Middies kon wel nie meeste van hulle geleenthede gebruik nie en Liggies kon weer die trofee verdedig wat hulle ook in 2017 gebuit het.
*Volkies se eerste rugbyspan het vir Hoërskool Zwartkop met 30-20 ore aangesit in die uitspeelstryd om derde en vierde plek om die bronsmedalje te verower. Volkies het ondanks ‘n 13-9 agterstand teen halftyd, briljant teruggeveg om die wedstryd te beklink.
Marno Prigge, Gustav Erlank en Le Roux White het vir Volkies gaan druk met beide, Erlank en White se drieë wat ‘n fees vir enige rugbyliefhebber was – goeie hardlooprugby in die gaping en 1,2,3 was daar 5 punte in die Potchefstromers se sakkie. Stephan van Niekerk was ook puik met sy skopvoet en sy drie strafskoppe in die eerste helfte het Volkies binne afstand gehou.
*Gimmies het in die uitspeelstryd om 5de en 6de plek teen Hoërskool Noordheuwel met 37-19 gesneuwel. Noordheuwel was te sterk vir Gimmies op die dag en het na ‘n 15-7 halftyd voorsprong die krane in die tweede helfte oopgedraai. Noordheuwel se binnesente, Divan van Tonder, was ‘n kolos in die agterlyn en hy het groot probleme vir die Potchefstromers veroorsaak. Vir Gimmies het Keenan Twigg, Anelka Barends en Dewald van der Westhuizen oor die drielyn gekuier.












