SportSport

Medaljes by dosyne vir lede van die Potchefstroom Swemklub

Die Suid-Afrikaanse streek-swemkampioenskappe (Vlak 3) wat van 3 tot 6 April in Pretoria plaasgevind het, het talle pragtige hoogtepunte vir lede van die Potchefstroom Swemklub opgelewer. Twee van die klub se swemmers het elk vyf medaljes losgeswem. Alexia Delicado sluit haar swemseisoen op ’n baie goeie hoogtepunt af deur haar beste gala van die seisoen …

Die Suid-Afrikaanse streek-swemkampioenskappe (Vlak 3) wat van 3 tot 6 April in Pretoria plaasgevind het, het talle pragtige hoogtepunte vir lede van die Potchefstroom Swemklub opgelewer. Twee van die klub se swemmers het elk vyf medaljes losgeswem.

Alexia Delicado sluit haar swemseisoen op ’n baie goeie hoogtepunt af deur haar beste gala van die seisoen te swem. Sy behaal persoonlike beste tye en dring deur na die finale rondtes van elke item waaraan sy deelgeneem het. Alexia glinster met twee gouemedaljes in twee vlinderslag-items (50m en 100m). Sy swem ook twee silwermedaljes in die 100m-kruipslag en die 50m-kruipslag los. Daarby verower sy die bronsmedalje vir die 200m-kruipslag. Om die kroon te span, swem sy in die 100m-kruipslag ‘n kwalifiserende SA Junior tyd.

Ewald Bartleman het tydens dié swemkampioenskappe sy beste persoonlike tye geswem en daardeur vyf medaljes ingepalm. Hy is die welverdiende wenner van die gouemedalje vir die 200m-IM. Ewald skitter verder met silwermedaljes in die 200m-borsslag en 200m-kruipslag en verower daarby twee bronsmedaljes vir die 100m-borsslag en 100m-rugslag.

Die hoogtepunt van hierdie byeenkoms vir Ewald is dat hy SA Junior kwalifiserende tye in die 100m-borsslag en 200m-borsslag opgestel het.
Chazél Orton het verskeie persoonlike beste tye opgestel en daardeur ook na elke finale rondte deurgedring. Sy staan op die boonste sport van die podium met twee gouemedaljes in die 100m-kruipslag en 50m-vlinderslag. Chazél ontvang ook brons vir die 50m-kruipslag. Tydens hierdie kampioenskap behaal sy ook ‘n hoogtepunt deur vir die eerste keer die 100m-kruipslag onder 1:05 te swem, wat daarby ’n Suid-Afrikaanse Junior kwalifiserende tyd is.

Pieter-Jacq du Toit het die eerste keer die Potchefstroom Swemklub by die Suid-Afrikaanse (Vlak 3) streek-swemkampioenskappe verteenwoordig en hom baie goed van sy taak gekwyt. Hy het verskeie persoonlike beste tye opgestel.
Die hoogtepunt vir Pieter-Jacq is sy algehele 12de plek in die 200m-borsslag en algehele 13de plek in die 100m-vlinderslag. Conrad Jordaan en Aiden Nel het ook vir die eerste keer aan die SA Vlak 3 streek-swemkampioenskappe deelgeneem. Aiden behaal ’n algehele sesde posisie in die 400m-kruipslag en Conrad ‘n 22ste plek in die 100m-borsslag.Berto Scholtz se hoogtepunte van die byeenkoms was toe hy vir die eerste keer die 50-vlinderslag onder 29s geswem het en algeheel 14de in die 50m kruipslag geëindig het.

Nina Slaughter het ’n uitstekende 200m-rugslag geswem wat haar tot die finale rondte laat deurdring het. Dit was sekerlik haar hoogtepunt van die kampioenskappe, aangesien sy in dié item ‘n algehele 6de plek behaal het.

Tumé van Niekerk het die swemklub ook vir die eerste keer by die swemkampioenskappe verteenwoordig. Sy het verskeie persoonlike beste tye opgestel waarvan sy, om net een voorbeeld te noem, die 400m-kruipslag met 19.33s verbeter het!

Haar hoogtepunte van die swemkampioenskappe is haar algehele 5de plek vir die 400-kruipslag en 13de plek vir die 50m-kruipslag.
Marike van Oort, die Potchefstroom Swemklub se afrigter, sê die swemmers maak haar baie trots.
Sy sê verder dat elke swemmer gedurende die afgelope swemseisoen baie hard en gereeld geoefen het en dat die swemprogramme wat hulle toegewyd gevolg het, op ‘n suksesvolle hoogtepunt vir die swemmers uitgeloop het. Die swemmers verdien volgens Van Oort hierdie indrukwekkende prestasies.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Potchefstroom Herald in Google News and Top Stories.

wouterpienaar01

I am the editor of the Potchefstroom Herald since January 2026. I have a keen interest for sport and local community news. I have more than a decade of experience covering various beats. Journalism is a lifestyle.

Related Articles

Back to top button