Mickey Olivier is nuwe gesig by NWU-Junior Swemklub
Die NWU-Junior Swemklub het ‘n nuwe afrigter aangestel in die plek van Willie Scheepers, wat sy loopbaan na vyf baie suksesvolle jare sedert die klub se ontstaan voortsit in Pretoria. Mickey Olivier, die nuwe afrigter, is ‘n swemmer van formaat in eie reg. Hy het aan georganiseerde swem begin deelneem op die ouderdom van 10 …

Die NWU-Junior Swemklub het ‘n nuwe afrigter aangestel in die plek van Willie Scheepers, wat sy loopbaan na vyf baie suksesvolle jare sedert die klub se ontstaan voortsit in Pretoria.
Mickey Olivier, die nuwe afrigter, is ‘n swemmer van formaat in eie reg.
Hy het aan georganiseerde swem begin deelneem op die ouderdom van 10 jaar onder die wakende oë van die bekende Wayne Ridden van Pietermaritzburg Seals; en was sedertdien ‘n gereelde medaljewenner en rekordhouer by senior en nasionale galas, waaronder die jaarlikse KZN Provinsiale Kampioenskappe, die voormalige Vlak 3 Nasionale Swemkampioenskappe, sowel as die jaarlikse SA Skolekampioenskappe.
Hy het veral in die kruipslag en rugslag items uitgeblink en het sedert 2012 – 2017 telkens gekwalifiseer om aan die jaarlikse SA Kortbad Swemkampioenskappe en SA Senior Nasionale Swemkampioenskappe deel te neem. Sy internasionale blootstelling sluit in herhaalde deelname aan die Speedo International Age Group Invitational galas in Florida (Amerika), waar hy ‘n medaljewenner in verskeie items was, ‘n jarelange rekord kon ewenaar en as ‘n gedugte spanlid aan aflositems saam met Olimpiese swemmers soos Darian Townsend, Terrence Parkin en Neil Versveld deelgeneem het. Mickey het in 2014 ingeskryf vir ‘n B.Com in Ekonomie en Risikobestuur aan die NWU en intussen ook ‘n nagraadse Onderwysdiploma voltooi. Hy is tans besig met honneurstudies in Ekonomie.
Hy het tydens sy studentejare ook onder die vaandel van die NWU-Swemklub geswem. Hy het reeds die vereiste geakkrediteerde swemafrigtingskursusse wat deur Swem Suid-Afrika aangebied word, suksesvol voltooi en is passievol oor swem as sport en sy toekoms as afrigter by die klub. Sy oë blink behoorlik wanneer hy hom oor sy planne vir die nuwe swemseisoen uitlaat. Hy is reeds besig met die voorbereiding van een van die swemmers vir die Down Sindroom Wêreldbyeenkoms vanjaar in Truro, Kanada. Vanaf Mei vanjaar is die res van die junior Pukkies in diè dinamiese jong man se hande wanneer hul winterprogram afskop by die verhitte swembad van die Potchefstroom High School for Girls.



