Noordwes Krieket se nommer een skeidsregter vir ’n rede
Dit verg ongelooflike toewyding om vir ure in die son te staan en elke boulbeurt met ’n valkoog dop te hou, maar dit is presies wat Noordwes Krieket se krieketskeidsregter van die Jaar, Anton Stapelberg met passie en fokus soms soos tweede natuur laat lyk. Krieketskeidsregters is nie altyd die spelers se gunsteling mense as …
Dit verg ongelooflike toewyding om vir ure in die son te staan en elke boulbeurt met ’n valkoog dop te hou, maar dit is presies wat Noordwes Krieket se krieketskeidsregter van die Jaar, Anton Stapelberg met passie en fokus soms soos tweede natuur laat lyk.
Krieketskeidsregters is nie altyd die spelers se gunsteling mense as ’n beslissing nie na hulle kant toe gaan nie, maar op die ou einde is hulle woord wet. Potchefstroom Herald het met Stapelberg gesels oor sy toekenning, sy liefde vir krieket en die belangrike rol wat hy op die veld vervul.

1) Hoe het jy by skeidsregting betrokke geraak? Waar het jou liefde vir krieket begin?
My liefde vir krieket het begin as seun onder die eikebome van Nuweland. Ek het eers laat in my lewe as skeidsregter gekwalifiseer.
2) Hoe voel dit vir jou persoonlik om as Noordwes Krieket se skeidsregter van die jaar aangewys te word?
Dis ’n voorreg maar ook ’n klop op die skouer vir volgehoue toewyding.
3) Wat is vir jou die beste aspek van skeidsregter wees en wat is die grootste uitdagings?
Die beste aspek is om steeds by die spel, op ’n ander vlak, betrokke te kan wees. Dit verg volgehoue kennis van die spel en reëls,dissipline, uithouvermoë, konsentrasie en om die hele tyd op die spel gefokus te bly. Dit is die grootste uitdagings.
4) Watter werk doen jy behalwe om naweke op die krieketveld te spandeer?
Ek hou myself besig met onder andere ’n junior krieket ontwikkelingsgroepie.
5) Het jy ’n gunsteling wedstryd waarin jy as skeidsregter betrokke was en hoekom?
Enige finaal, op enige krieketvlak is spesiaal. Dit is ’n spesiale geleentheid vir die spelers en dis vir my lekker om deel te wees van so ’n wow-geleentheid.
6) Watter krieketvlak is vir jou die lekkerste om as skeidsregter op te tree?
Skolekrieket. Jy word tot die uiterste beproef in alle fasette van die spel.
7) Verduidelik ’n dag in die lewe van ’n skeidsregter?
Ek is altyd vroeg by die veld, vergewis myself van die omstandighede en berei myself voor vir die moontlike uitdagings wat mag opduik tydens die spesifieke wedstryd.
8) Wat het jy altyd by jou op die veld waarmee kan jy nie klaarkom nie?
Iets om te kou en “Lip Ice”.
9) Watter advies sal jy vir jong en opkomende skeidsregters gee?
Gebruik elke geleentheid om te ontwikkel en te leer. Luister ook na kritiek.




