SportSport

Sani2C sonder skroom vir Potch se top bergfietsryers

Hand aan hand het die jong twee Potchefstroomse bergfietsryers, Danielle Strydom en Kristen “Nooi” Louw berge versit toe hulle in hulle eerste Sani2c bergfietswedren ‘n briljante algehele derde plek in die vroue-kategorie behaal het. Hierdie bergfietswedren wat oor drie dae (10-12 Mei) in die Sani-Pas en Suidelike Drakensberge tot by Scottburgh oor ‘n totale afstand …

Hand aan hand het die jong twee Potchefstroomse bergfietsryers, Danielle Strydom en Kristen “Nooi” Louw berge versit toe hulle in hulle eerste Sani2c bergfietswedren ‘n briljante algehele derde plek in die vroue-kategorie behaal het.

Hierdie bergfietswedren wat oor drie dae (10-12 Mei) in die Sani-Pas en Suidelike Drakensberge tot by Scottburgh oor ‘n totale afstand van 261 kilometer plaasgevind het, was vir dié twee jong dames van die Team Bestmed bergfietspan ‘n ervaring uit ‘n ander wêreld.

Strydom en Louw het in ‘n algehele tyd van 11:13:27 klaargemaak. In die eerste plek was Dormakaba (Samantha Sanders/Amy McDougall) in ‘n tyd van 09:57:49, met ‘n tweede plek wat aan Team Bell (Andrea de Boer/Hayley Smith) in ’n tyd van 11:08:15, behoort het.

“Ek het regtig baie hoë verwagtinge gehad en was baie opgewonde voor die tyd nadat my pa, wat die wedren in 2012 gedoen het, ons meer vertel het daarvan. Toe ons daar aankom vir die eerste dag het die hele atmosfeer ons verwagtinge totaal en al oortref. Dit was ongelooflik gewees.
“Die mense was so vrolik en by die waterpunte was dit omtrent soos ‘n buffet-tafel,” lag Strydom.
Louw stem ook saam met haar spanmaat dat hierdie ervaring een sal wees wat sy nooit sal vergeet nie.

“Elke dag was soos ‘n nuwe avontuur met die mooiste roetes wat jou asem sal wegslaan. Ons albei is baie gelukkig om ‘n derde plek in so ‘n groot wedren te kon behaal. Ons gaan verseker dit weer doen.”

Dag 1: Klim, klim en nogmaals klim (82 km)

Die eerste dag was ‘n dag waar klim die werkwoord vir sukses was.
“Dit was die verste wat ek nog gery het. Die eerste dag was 82 kilometer, maar ek het baie goed gevoel na die eerste dag waar ons derde algeheel geëindig het,” het Strydom tevrede genoem.
Volgens Strydom het die roete baie opdraandes bevat wat vir haar uitdagings gebied het.
“Ek is nie so gewoond aan daardie baie klimme en die afstand nie, maar ek en Nooi het mooi saamgewerk. Sy was bietjie moeër na die eerste dag, maar ek dink sy was net bietjie meer op haar senuwees. Ons was altwee verlig en bly na die eerste dag met ‘n water en Super M in elke hand.”

Dag 2: Mooi maar moeilik (96 km)

“Dag 2 was nogal moeilik gewees met ‘n vreeslike groot klim, wat ek op my Strava-App “Death by Iconic” gedoop het. Dit is ‘n baie klipperige en tegniese klim. Nooi het voor gery op die tweede dag waar sy vir seker die sterker ryer van ons twee was. Ek reken ek was so effens oorgretig op die eerste dag en het te veel vuurhoutjies gebrand. Ek het die afstand so effens onderskat en ek het maar gesukkel met die laaste paar kilometers,” verduidelik Strydom.
Volgens Strydom bevat dag 2 se roete wel die mooiste dele van die wedren waar fietsryers in ‘n vallei afdaal, wat sy beskryf as die mooiste roete wat sy al ooit gery het.
“Dit is ongelooflik. ‘n Mens wil net stop en alles ervaar op daardie oomblik, al is jy besig met ‘n wedren.”
Al het Strydom nie haar beste dag beleef nie, het sy en Louw steeds tweede na die tweede skof geëindig wat ‘n merkwaardige prestasie is.

Dag 3: Flink en vinnig na brons (83 km)

“Die laaste dag was baie lekker gewees, met meer plat grondpaaie waar ‘n mens kon spoed opbou. Hulle noem ook hierdie skof, Fast and Furious, wat ‘n mens ‘n goeie aanduiding gee. Dit was ‘n lekker skof om die wedren mee klaar te maak. Ek het beter na myself gekyk en beter gery.”
Strydom gee ook baie lof aan haar spanmaat wat in moeilike tye daar was vir haar.

“Ek en Nooi se rystyle is baie eenders in die sin dat ons sterk op die klimme is. Dit is regtig ‘n lekker aspek om dan Nooi as ‘n spanmaat te hê omdat ons na mekaar kyk en mekaar al lank ken. So dit was baie gemaklik.”

Op die laaste paar kilos het ons opgevang by die twee fietsryers wat derde was en in die laaste klim voor die eindstreep het ons hulle in die straatjies van Scottburgh verbygevat. Dit was ‘n baie lekker gevoel toe ons klaarmaak,” vertel Strydom.
Vir Strydom was die wedren wêreldklasgehalte met puik organisering wat haar definitief genoop het om volgende jaar nog ‘n rang hoër op die podium te staan.

“Die organiseerders het vir letterlik alles gesorg. Ek kon nie glo dat dit so vinnig verby was nie en dit is vir my ‘n bewys dat ek dit geniet het. Ek gaan definitief volgende jaar weer deelneem en elke jaar daarna tot ek nie meer kan fietsry nie!”

*In die mans-kategorie van die Sani2c het die Potchefstromer, Pieter du Toit, saam met sy spanmaat Phillimon Sebona van die Pyga/Euro Steel-span ‘n puik vierde algehele plek behaal in ‘n tyd van 09:14:11.
Die wenners was Nico Bell en Matt Beers van Team NAD in ‘n tyd van 08:53:33.

AJR
AJR

https://www.nbcarsales.co.za/

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Potchefstroom Herald in Google News and Top Stories.

wouterpienaar01

I am the editor of the Potchefstroom Herald since January 2026. I have a keen interest for sport and local community news. I have more than a decade of experience covering various beats. Journalism is a lifestyle.

Related Articles

Back to top button