Griekwas brand Luiperds met vurige tweede helfte
Vier drieë van die Griekwas se kookwater linkervleuel, Enver Brandt, het verseker dat die manne van Kimberley vanmiddag (Vrydag, 25 Mei) ‘n 46-31 sege teen die Luiperds op die Fanie du Toit Sportgronde in Potchefstroom behaal. Die Luiperds het vir ‘n goeie 65 minute van die wedstryd voorgeloop en kon hulle eerste wen van die …
Vier drieë van die Griekwas se kookwater linkervleuel, Enver Brandt, het verseker dat die manne van Kimberley vanmiddag (Vrydag, 25 Mei) ‘n 46-31 sege teen die Luiperds op die Fanie du Toit Sportgronde in Potchefstroom behaal.
Die Luiperds het vir ‘n goeie 65 minute van die wedstryd voorgeloop en kon hulle eerste wen van die Supersport Uitdaagtoernooi ingepalm het, maar die Griekwas se uithouvermoë was groter in ‘n aanskoulike wedstryd waar daar altesaam 11 drieë gedruk is.
Teen halftyd het die gelyk of die Luiperds die wedstryd kan deurhak nadat hulle 24-15 voorgeloop het. Die Griekwas het wel ander planne gehad en in ‘n begeesterde tweede helfte-vertoning die wind uit die Luiperds se seile gehaal. Die Kwaste het gedurig tyd in die tuisspan se 22 spandeer en die mentaliteit van aanhouer wen gehad om die wedstryd in die laaste 15 minute deur te trek.
‘n Paar hanteerfoute in die tweede helfte en strafskoope wat by die afbreekpunte afgestaan is, het die Luiperds duur te staan gekom en hulle kon nie enige momentum opbou om terug te veg nie.
Buiten die Griekwas se Brandt, wat individueel goed vertoon het, het Jonathan Francke en Kyle Steyn ook uitstekende wedstryde vir die besoekers in die agterlyn gehad.
Foto’s: Wouter Pienaar
Vir die Luiperds het die slot, Joe Smith, wat altyd ‘n neus vir die drielyn het, ‘n fantastiese wedstryd gehad, sowel as Schalk Hugo wat ‘n foutlose dag met sy skopskoen beleef het. Evardi Boshoff, Lungelo Goza en Bradley Moolman het ook op tye geskitter, met Boshoff se drie wat veral die oog gevang het.
Sake lyk al beter, maar tog lê daar nog baie werk vir die Luiperds voor wat ondanks oomblikke van briljantheid steeds ‘n paar basiese foute gemaak het en op die einde hulle vingers laat brand het.
Punte
Luiperds
Drieë: Louis van der Westhuizen, Evardi Boshoff, Joe Smith (2),
Doelskoppe: Schalk Hugo (3)
Strafskoppe: Schalk Hugo (2)
Griekwas
Drieë: Enver Brandt (4) FP Pelser, Christiaan Meyer, Ederies Arendse
Doelskoppe: André Swarts, George Whitehead (3)
Strafskoppe: André Swarts















