‘n Rooi, swart en geel Volkskool vulkaan het vanmiddag (Saterdag, 26 Mei) in die 2018 Classic Clash eerstespan rugbywedstryd verwoesting teen Potchefstroom Gimnasium gesaai met ‘n 50-10 sege op die Fanie du Toit Sportgronde.
Dit is die eerste keer in ‘n baie lang tyd wat een skool in hierdie groot derby ‘n 50-tal in die eerstespanwedstryd behaal – Volkievreugde het soos ‘n vulkaan geborrel met die blaas van die eindfluitjie.
Vulkaan is dalk net die regte woord, want Volkies se spel was vuurwarm en voortreflik vir die volle 70 minute waar hulle sewe drieë altesaam gedruk het om Gimmies se kanse te laat smelt. Die lostrio van Marno Prigge, Dion Bezuidenhout en Jacques Gouws het gekook en met klipharde spel sake voor beheer. Gouws was uitstekend met sy driekuns, terwyl Prigge twee drieë gedruk het. Al het Bezuidenhout nie ‘n welverdiende drie behaal nie, was hy ook een van die sterre met vlymskerp verdediging. Die regtervleuel, Gustav Erlank, het die wedstryd van sy lewe gespeel en die ander twee drieë vir Volkies gedruk.
Foto’s: Wouter Pienaar
Nog ‘n speler wat uitgestaan het was die Volkies se slot, André Smit, wat soos ‘n wafferse vleuel ‘n paar keer langs die kantlyn sy spoed ten toon gestel het. Hy was ook soos ‘n toring in die lynstane en keer op keer kon Volkies van daardie solide basis balbesit behou.
Die wedstryd was wel in die eerste 20 minute ‘n tipiese Gimmie-Volkie stryd waar geen span die ander enige kanse gegee het nie. Gimmies se heelagter Billy Jacobs het eerste gaan druk om sy span na 15 minute te laat voorloop. Prigge het toe die guns in Volkies se kant met sy drie geswaai, voordat ‘n puik skepskop van losskakel, Stephan van Niekerk, die telling na 10-5 in sy span se guns gebring het. Die uitstekende regtervleuel, Erlank se eerste drie het die voorsprong na 17-5 vergroot, voordat swak verdediging en skerp spoed van Gimmies se nommer 14, JP de Lange hom in die hoekie laat oorduik het om die telling na 17-10 met halftyd te verkort.
Dit was die laaste keer wat Gimmies enige sê in die stryd gehad het want die volgende 35 minute het Volkies gedomineer. ‘n Fout vroeg in die tweede helfte va nGimmies se skrumskakel, Johatt Batsietseng het vir Volkies kans gegee om vanaf ‘n 5 meter skrum hulle derde drie te druk. Dit was ook Gouws se eerste een in sy driekuns. ‘n Onderskep van Volkies se kaptein en buitesenter, Awie Visser, het tot Erlank se tweede drie gelei met eersgenoemde wat na ‘n 50 meter lopie die bal vir Erlank gee om klinies af te rond. Met die telling op 36-10 en 15 minute speeltyd oor was dit gedane sake. Prigge en Gouws sit meer glans met nog twee driee in die laaste 10 en verseker dat Volkievreugde hoog loop.
“Ons verdediging het ons hierdie wedstryd laat wen. Dit is ‘n ongelooflike gevoel om in my laaste wedstryd as afrigter die beker te wen. Dis my grootste hoogtepunt,” het die ervare Volkies se afrigter, Christo van Heerden genoem.
Volkies se kaptein, Awie Visser, was in die wolke na sy span se groot oorwinning teen hulle vyand.
“Ons het nooit opgegee nie en net hard gespeel. Die voorspelers was ongelooflik en dit het ons agterspelers kans gegee om met die bal te hardloop. Dit is definitief ‘n wen wat ek vir altyd sal onthou.”
Punte:
Volkies: 50 (17)
Drieë: Marno Prigge (2), Jacques Gouws (3), Gustav Erlank (2)
Doelskoppe: Stephan van Niekerk (5)
Gimmies: 10 (10)
Drieë: Billy Jacobs, JP de Lange
*Lees meer in komende Donderdag se Herald vir al die Classic Clash uitslae en pragfoto’s van ‘n uitsonderlike sportnaweek.













