Volkies en Gimmies se netbaldogters op pad SA’s toe
Vasberadenheid, volharding, en ‘n verbete veggees was maar net ‘n paar bestanddele in Hoër Volkskool Potchefstroom se o.17A-netbalspan se wenresep nadat hulle die afgelope naweek in Rustenburg as die Noordweswenner gekroon is. Volkies se o.17 A’s het Hoërskool Rustenburg met 17-4 in die eindstryd geklop om die titel te buit en ook hul plek in …
Vasberadenheid, volharding, en ‘n verbete veggees was maar net ‘n paar bestanddele in Hoër Volkskool Potchefstroom se o.17A-netbalspan se wenresep nadat hulle die afgelope naweek in Rustenburg as die Noordweswenner gekroon is.
Volkies se o.17 A’s het Hoërskool Rustenburg met 17-4 in die eindstryd geklop om die titel te buit en ook hul plek in die SA Skole Kampioenskappe vanaf 20-22 Julie te bespreek.
Dit is ‘n glorieryke jaar sover vir hierdie span wat ook die NWU Prestigereeks kampioene is en oorwinnaars in die Volkie-Gimmie Classic Clash was.
Volgens die span se afrigter, Morné Smit, is die belangrikste deel van sy span hulle toewyding. Ons het twee spelers gehad wat beseer was en party spelers moes uit hul posisie speel. Hulle het dit sonder moeite gedoen.
Volgens Smit glo hy ook dat sy span reg voorberei is en in fases werk om tot bo uit te kom.


“Ons werk na ‘n groot doel toe en nou lê die SA’s voor. Ek is baie trots op my span en die hart wat hulle gewys het,” noem hy.
Volkies se o.17A span se oorwinning was nie die enigste ligpunt vir Volkies nie. Hulle o.14A-span het ook na die SA’s deurgedring.
Gimmies se eerste netbalspan het ondanks hulle nederlaag teen Hoërskool Rustenburg in die eindstryd, ook na die SA’s deurgedring. Hulle was verlede jaar die o.17 SA-kampioene.
So ook Gimmies se o.16A-span wat ’n derde plek by die Noordweskampioenskappe behaal het.


Harde werk lê nou vir hierdie spanne voor wat Noordwes teen SA se bestes moet gaan verdedig.




