Luiperds eindig toernooi met groot wen teen die Griffons
Die Luiperds het danksy ‘n strafskop van staatmaker losskakel, Schalk Hugo, uiteindelik hulle verloorspook afgeskrik met ‘n welverdiende 38-35 oorwinning teen die Griffons die afgelope Saterdag, 16 Junie in Welkom. Die Luiperds was in vanjaar se Supersport Uitdaagtoernooi die spreekwoordelike lammers ter slagting na sewe agtereenvolgende nederlae, maar toe hulle dit die nodigste gehad het, …

Die Luiperds het danksy ‘n strafskop van staatmaker losskakel, Schalk Hugo, uiteindelik hulle verloorspook afgeskrik met ‘n welverdiende 38-35 oorwinning teen die Griffons die afgelope Saterdag, 16 Junie in Welkom.
Die Luiperds was in vanjaar se Supersport Uitdaagtoernooi die spreekwoordelike lammers ter slagting na sewe agtereenvolgende nederlae, maar toe hulle dit die nodigste gehad het, het Jonathan Mokuena se manne ‘n wen in Welkom uitgepluk.
Dit was behoorlik ‘n welkome wen vir die Luiperds wat uiteindelik die apie van hulle rug af het. Die Luiperds wat in hierdie laaste wedstryd hulle stempel afgedruk het, was Eugene Hare met twee drieë sowel as die woelige flank, Gideon van der Merwe. Hugo het tesame met die voorafgenoemde strafdoel ook self ‘n drie gaan druk om die Luiperds ‘n kans op oorwinning te gee.
Volgens Luiperds afrigter, Jonathan Mokuena, was hierdie wen ‘n goeie beloning vir sy spelers na ‘n moeilike seisoen waar uitslae nie na hulle kant toe gegaan het nie.
“Al was daar ‘n paar foute in die wedstryd en dit ‘n bietjie naby was, kan ‘n ou niks wegvat van die manne se inspanning nie. Teen rustyd toe ons agter was, was dit nodig om die manne vir die laaste 40 minute te motiveer,” noem Mokuena. Volgens Mokuena het sy span in die tweede helfte veel beter vertoon toe hulle vaste fasette en rolmaalbewegings aan die gang gekom het.
“Ek is baie bly ons kon die Supersport Uitdaagreeks met ‘n wen afsluit. Vir my het ouens soos Chriswill September, wat as kaptein ingestaan het, vir my uitgeblink. Ek voel ook dat die slot, Stairs Mhlongo en senter, Brad Moolman ook gewys het waartoe hulle in staat is.”
Mokuena se aandag sal nou na die opkomende Curriebeker Eersteliga skuif wat op 25 Augustus begin.
Die Luiperds vat die SWD Arende in George aan in hulle eerste wedstryd.




