SportSport

Volkskool wen naelbytstryd teen Gimnasium om plek in eindstryd te bespreek

Hoër Volkskool Potchefstroom se eerste rugbyspan het hulle plek in die Virsekerbeker Noordwesliga eindstryd op dramatiese wyse bespreek, toe hulle Potchefstroom Gimnasium die afgelope Saterdag, 16 Junie met 35-33 op Hoërskool Klerksdorp se velde geklop het. Volkskool se Cravenweek-slot, Kobus Burger, het in die laaste vyf minute gedruk toe hy met omtrent drie Gimmie-verdedigers om …

Hoër Volkskool Potchefstroom se eerste rugbyspan het hulle plek in die Virsekerbeker Noordwesliga eindstryd op dramatiese wyse bespreek, toe hulle Potchefstroom Gimnasium die afgelope Saterdag, 16 Junie met 35-33 op Hoërskool Klerksdorp se velde geklop het.
Volkskool se Cravenweek-slot, Kobus Burger, het in die laaste vyf minute gedruk toe hy met omtrent drie Gimmie-verdedigers om hom oor die doellyn is. Die kontras tussen emosies was iets om te beleef met ‘n pootuit Gimmies-span wat tevergeefs alles probeer het om die drie te keer, terwyl ‘n vreugdevolle Volkies-span skielik ‘n sesde rat gekry het.


Alle oë was na hierdie drie op Volkies se losskakel, Stephan van Niekerk, wat die beslissende doelskop moes oorskop om Volkies met slegs drie minute oor, te laat voorloop. Van Niekerk slaag met sy poging en sy span hou Gimmies in die doodsnikke uit om vanjaar weer eens hulle buurskool te klop. Volkskool sal nou teen Hoërskool Wesvalia in die eindstryd speel, nadat laasgenoemde vir Hoërskool Klerksdorp in die ander halfeindstryd verras het met ‘n 26-19 oorwinning.
Gimmies was wel ratser uit die afspringblokke uit en die glibberige skrumskakel, Johatt Batsietseng en die losskakel Billy Jacobs, druk hulle span se eerste drieë om met 14-0 voor te loop.


Volkies het toe in die 18de minuut hulle rekening oopgemaak toe vasskop Colin Smart ‘n broodnodige drie gedruk het. Dit was net die belegging wat Volkies nodig gehad het, want kort daarna was hulle op koers met twee puik drieë van André Smit en Gustav Erlank. Erlank se drie was uit die boonste rakke met ‘n puik 40 meter lopie wat hy sonder skroom afgerond het. Dié blitsige regtervleuel het soos ’n warm mes deur botter gesny soos hy heen en weer geswaai het om ‘n paar verdedigers te ontglip. Toe hy eers versnel, was Erlank se pad oop om Volkies vir die eerste keer in die wedstryd te laat voorloop.
Gimmies het die laaste sê voor halftyd gehad toe hulle regtervleuel, JP de Lange, ‘n soortgelyke haas uit die hoed trek met ‘n towerslag verby omtrent sewe Volkies om ‘n fantastiese drie te druk. Met halftyd was die telling 21-19 in Volkies se guns met nog baie drama wat in die volgende 35 minute voorgelê het. Volkies het in die tweede helfte die eerste kans gehad om ‘n drie te druk, maar klipharde verdediging op die lyn het hulle gestuit. Gimmies het toe ‘n kans gehad om die voortou te neem, maar Johan Minnaar het sy langafstand strafskop verby die regterpaal gesit. Met 15 minute oor het Volkies se sterflank Marno Prigge gaan druk om sy span ‘n negepunt buffer te gee met die telling op 28-19.
Dit was toe dat die Cravenweek-senter, Keenan Twigg vir Gimmies nie net aan die deur geklop het nie, maar sommer die deur afgebreek het met twee kragtige drieë. Twigg was onstuitbaar in ’n 5-minuut periode waar hy sy span met 33-28 laat voorloop het.
Dit was nou of nooit vir Volkies en dié keer het die wiel na die rooi en swart span se kant gedraai toe hulle dit die meeste nodig gehad het. Burger is die held van die dag en Twigg kan net terugkyk na wat kon wees.

Foto’s: Wouter Pienaar

https://www.nbcarsales.co.za/
https://www.nbcarsales.co.za/

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Potchefstroom Herald in Google News and Top Stories.

wouterpienaar01

I am the editor of the Potchefstroom Herald since January 2026. I have a keen interest for sport and local community news. I have more than a decade of experience covering various beats. Journalism is a lifestyle.

Related Articles

Back to top button