Gimmies se hokkieseuns ervaar bekerglorie in die NW Platinumliga
Potchefstroom Gimnasium se reputasie as ’n puik hokkieskool is weer eens die afgelope maand bevestig toe beide hulle eerste en o.14-spanne as die 2018 Noordwes Platinumligawenners aangewys is. Hierdie seunshokkiespanne van Gimmies is weer eens boaan die ranglys na hulle oortuigende vertonings met die o.16A-span wat ook ‘n tweede plek algeheel behaal het, net agter …

Potchefstroom Gimnasium se reputasie as ’n puik hokkieskool is weer eens die afgelope maand bevestig toe beide hulle eerste en o.14-spanne as die 2018 Noordwes Platinumligawenners aangewys is.
Hierdie seunshokkiespanne van Gimmies is weer eens boaan die ranglys na hulle oortuigende vertonings met die o.16A-span wat ook ‘n tweede plek algeheel behaal het, net agter Hoërskool Rustenburg op die punteleer.
Volgens Gimmies se seunshokkie-organiseerder, Soekie Coertzen, neem slegs die beste sewe skole (wat seunshokkie betref) deel aan dié Noordwes Platinumliga wat vanaf Mei tot Junie plaasgevind het. Elke span speel teen mekaar en die wenner word volgens punte bepaal, met geen uitspele wat plaasvind nie. Gimmies se eerstespan eindig op 20 punte waar hulle altesaam 27 doele aangeteken het en net twee doele afgestaan het. Een van die groot uitblinkers vir Gimmies se eerste hokkiespan is Lumka Gebengana, wat doele van elke kant af ingeskiet het.
Hul kaptein, Adriaan Röntgen het ook ’n puik seisoen agter die rug waar hy sy span goed gelei het. Die volgende opkomende hekkies waaroor Gimmies moet spring, is die Noordvaal-toernooie wat vanaf 26-28 Julie plaasvind. Gimmies het tradisioneel ‘n goeie rekord in hierdie toernooi met hulle eerstespan wat in 2016 die gesogte Noordvaal-titel verower het. Die Noordvaal-toernooie gaan onderskeidelik in die volgende stede aangebied word.
Die o.19A-toernooi gaan by die NWU Astro, o.16A by Hockey Farm in Witbank en o.14A by Curro Klerksdorp plaasvind. Verder sal die o.19B by Penryn College in Nelspruit, o.16B by Hoërskool Nelspruit en o.14B-toernooi by Hoërskool Rustenburg aangebied word.
Gimmies se eerstespan-uitslae is as volg:
• Gimmies teen Hoërskool Rustenburg (wen 2-1)
• Gimmies teen Curro Klerksdorp (wen 8-0)
• Gimmies teen Potchefstroom Boys High (speel gelykop 1-1)
• Gimmies teen Hoërskool Ferdinand Postma (wen 4-0)
• Gimmies teen Hoër Volkskool Potchefstroom (wen 6-0)
• Gimmies teen Selly Park (wen 6-0)
Gimmies se o.14A-span teken 23 doele aan en staan net een doel af in ‘n indrukwekkende seisoen.
Gimmies se o.14A uitslae is as volg:
• Gimmies teen Hoërskool Rustenburg (wen 2-1)
• Gimmies teen MR (wen 4-0)
• Gimmies teen Boys High (wen 7-0)
• Gimmies teen Volkies (wen 4-0)
• Gimmies teen Selly Park (wen 3-0)
• Gimmies teen Curro Klerksdorp (wen 3-0)
Gimmies se o.16A uitslae is as volg:
• Gimmies teen Hoërskool Rustenburg (verloor 3-1)
• Gimmies teen Potchefstroom Boys High (wen 7-0)
• Gimmies teen Volkies (wen 4-0)
• Gimmies teen Selly Park (wen 7-0)
• Gimmies teen Curro (wen 3-0)

