“Arrie Warrie!” vir een van Potchefstroom se skolesport-legendes
Met sy aansteeklike optimisme en opgewekte persoonlikheid, het Potchefstroom Gimnasium se bekende sportorganiseerder en onderwyser, Arnold van der Merwe, die afgelope drie dekades ‘n groot hand in Gimmies se sportsukses gehad. Hierdie bekende Potchefstromer gaan oor ‘n paar dae na die Jakarandastad trek waar hy by Hoërskool Garsfontein as atletiekhoof by hulle sportburo gaan dien …

Met sy aansteeklike optimisme en opgewekte persoonlikheid, het Potchefstroom Gimnasium se bekende sportorganiseerder en onderwyser, Arnold van der Merwe, die afgelope drie dekades ‘n groot hand in Gimmies se sportsukses gehad.
Hierdie bekende Potchefstromer gaan oor ‘n paar dae na die Jakarandastad trek waar hy by Hoërskool Garsfontein as atletiekhoof by hulle sportburo gaan dien en verder sy lig gaan skyn.
“Dit was nie ‘n maklike besluit nie, omdat ek soveel jare betrokke was by Gimmies. Tog glo ek dat dit die regte tyd is vir ‘n nuwe uitdaging na 42 jaar in Potchefstroom. My doel is om seker te maak dat Garsfontein die beste afrigters kry en Garsfontein onder die top drie atletiekskole in die land te kry,” vertel hy.
Van der Merwe verlaat Potchefstroom met ‘n trofeekas vol prestasies waar hy veral op die atletiekbaan ‘n sentrale rol gespeel het om die wenmentaliteit by die Gimmie-atlete te kweek en dan op die baan te wys hoekom hulle nommer een is.
“Die prestasie waarop ek die trotsste is, is dat Gimmies in 25 jaar die Interhoër-atletiekbyeenkoms 24 keer met my as atletiekorganiseerder gewen het. Ek het regtig probeer om die hartklop van die span te wees, maar ons sukses is nie aan my te danke nie.
“Die sukses lê by die afrigters en ons atlete wat regtig hard gewerk het. Daar is ‘n rede hoekom ons die beste plattelandse atletiekskool in die land is,” noem Van der Merwe.

Hierdie atletiekliefhebber is ‘n groot dromer wat ‘n gawe het om kinders voor groot sportbyeenkomste te motiveer.
“Ek is ‘n optimis en ek het besef dat ek my mond moet oopmaak en praat, anders gaan mense oor my loop. So dit is vir my belangrik om ‘n positiewe omgewing te skep en op my punt te staan en hierdie houding ook by ons kinders te kweek,” noem hy.
’n Lang lys prestasies
Van der Merwe se ander merkwaardige prestasies sluit in die toekenning vir beste Absa Permit atletiekbyeenkoms in Suid-Afrika wat hy in 2000 ontvang het, sowel as verskeie posisies wat hy as voorsitter beklee het. Dit sluit in die voorsitter van die Puk-Prestige Wintersportreeks sowel as Atletiek Sentraal-Noordwes se baan en veld-afdeling.
“Daardie Absa Permit-toekenning was een van my trotsste oomblikke as atletiekorganiseerder. Dit is iets wat altyd by my sal bly.”
Van der Merwe is ook ‘n erkende atletiekafrigter wat veral in middel en langafstande groot sukses behaal het. Vanaf 1989-2013 het sy atlete by die SA-kampioenskappe ‘n indrukwekkende 18 goud, 17 silwer en 18 bronsmedaljes ingepalm, sowel as 10 SA-rekords verbeter.
In landloop het Van der Merwe ook sy stempel afgedruk met 70 hoërskoolatlete wat onder sy leiding aan die SA-kampioenskappe deelgeneem het.
“My eerste atleet wat nasionale kleure verwerf het in tweekamp was Hannes Jonker en hy het sy das vir my as geskenk gegee. ‘n Ander atleet, Anel Dippenaar, het toe sy o.15 was, in die 800 meter ‘n 2:09,9 gehardloop. Sy was die vinnigste o.15 dogter in SA en sy het saam met die o.17’s gehardloop,” noem hy.
Sy stem skilder die atletiekaksie
Nog ‘n komponent van Van der Merwe se atletiekpassie is natuurlik sy treffende slagspreuke en bemoedigende woorde wat hy as aankondiger oor die atlete op die baan saai.

“My werk as aankondiger het begin toe die weermag my in 1979 gevra het om in die halfmarathon aan te kondig. Die mense het my toe nader getrek vir verskeie groter byeenkomste, waar ek toe vanjaar by die SA kampioenskappe aangekondig het, wat vir my ‘n groot eer was.
“Ek het nog altyd net soveel positiewe terugvoer gekry oor die manier hoe ek aankondig en krediet vir enige iemand te gee.
“Die belangrikste is om op jou voete te dink, die byeenkoms lewendig te hou en die statistieke goed te ken,” verduidelik Van der Merwe.
Volgens hom is die 800 meter-item die lekkerste om aan te kondig, aangesien dit vir hom tyd gee om die storie van die aksie te vertel en dan vir ‘n goeie klimaks op die laaste 100 meter te sorg.
Nuwe begin
Van der Merwe het nog altyd sy alles vir sy werk gegee en in dié stadium sien hy ook uit om meer tyd in die buitelewe te spandeer.
“My grootste begeerte is om met my karavaan in die Wildtuin te staan. Ek hou baie van die buitelewe.
“Ek het groen vingers en ek is mal oor my broodbome. Die nuwe pos en gemakliker werksure sal vir my geleentheid gee om tyd vir ander goed ook te hê,” sê Van der Merwe, wat in ‘n stadium ook gereeld aan duiwewedvlugte deelgeneem het.
Of dit nou sy bekende opgewekte stem was wat oor die luidsprekers by talle atletiekbyeenkomste basuin het, of sy wysvinger wat in die lug wapper na talle Gimmies sportsuksesverhale, het Arnold van der Merwe ‘n onlosmaakbare merk gelos.
Arrie Warrie!




