Nuwe bladsy vir NWU se Varsity Netbalspan
Daar is ‘n optimistiese nuwe houding by die NWU se Varsity Netbalspan vanjaar met ‘n nuwe afrigter en kaptein wat ’n vars bries tot die span se bekerdroom bring. Die welbekende voormalige NWU en Proteaspeler, Elsunet du Plessis, vervul vanjaar die eerste keer haar rol as Varsitybekerafrigter met die stersenter, Romé Dreyer wat as kaptein …
Daar is ‘n optimistiese nuwe houding by die NWU se Varsity Netbalspan vanjaar met ‘n nuwe afrigter en kaptein wat ’n vars bries tot die span se bekerdroom bring.
Die welbekende voormalige NWU en Proteaspeler, Elsunet du Plessis, vervul vanjaar die eerste keer haar rol as Varsitybekerafrigter met die stersenter, Romé Dreyer wat as kaptein haar stempel sal wil afdruk. Ander sleutelspelers soos die doel, Sigi Burger, verdediger, Monique Reyneke en hulpdoel, Jessica du Plessis sal ook ’n groot rol vervul.
Verlede jaar moes die NWU in die eindstryd teen Tukkies die knie buig en vanjaar sal die studente van Potchefstroom in hulle nuwe pers drag die beker wil huis toe bring.
Hierdie komende naweek sal die NWU se Varsity Netbalspan in Bloemfontein by die Callie Human-saal hulle Varsity Netbalveldtog begin. Du Plessis se span speel eerste teen UJ op Sondag, 26 Augustus om 15:00 voordat hulle Maandag om 17:30 teen die verdedigende kampioene, Tukkies, te staan kom. Du Plessis was hierdie week in ‘n ontspanne luim en glo dat haar span genoeg voorbereiding ingesit het vir die jaarlikse Varsity Netbal-skouspel.

“Ons het vanjaar by die NWU se interkampus-toernooi op 9 Augustus goed gespeel en ‘n paar kombinasies getoets. Ons eerste wedstryd in Varsity Netbal is teen UJ en ons glo dit is ‘n goeie wedstryd vir ons om ons voete te vind voor die Tukkies wedstryd,” het sy genoem. Een van die groot uitdagings in die voorbereiding tot die toernooi was die Powerplay-reël wat Du Plessis se span met mening ingeoefen het. Die Powerplay is ‘n twee-minuut periode waar spanne se doele verdubbel word en kan ‘n groot impak op die wedstryde hê.
“Ons oefen met musiek, omdat daar gedurig musiek in hierdie wedstryde is wat dit soms moeilik maak om mekaar op die baan te hoor.
“Ons het ook die spesifieke Powerplay-liedjie waarop ons oefen om ons gereed te maak,” het Du Plessis verduidelik. Daar is ook ‘n klomp nuwe gesigte in hierdie span en daar heers ‘n gevoel dat dit vir die NWU ‘n oorgangsfase is waar dit belangrik gaan wees om die span te bou en stabiliteit te verseker.
“My doel met hierdie naweek se wedstryde is om seker te maak dat ons dit toepas wat ons geoefen het en dat ons met ons volle potensiaal speel. Die toernooi is ook sewe weke lank en ons sal elke wedstryd moet vat soos dit kom,” sê Du Plessis.
NWU se Varsity Netbal-groep:
Anja Esterhuizen, Caitlinn Rousseau, Claudia van den Berg, Didintle Keebine, Jessica du Plessis, Jomari Myburgh, Kamogelo Moiloe, Keabetswe Mtshali, Leonie Maree, Louise Louw, Luyanda Khumalo, Mirriam Maroba, Monique Reyneke, Nicole Amiras, Nicolene van Heerden, Olerato Molapo, Romé Dreyer, Sigi Burger, Zeandré Nel.




