SportSport

Luiperds wys kloue teen Boland

Die Luiperds het met aggressie en passie vir Boland gemaklik met 35-12 verslaan in vanaand (Vrydag, 31 Augustus) se Curriebeker Eerstedivisie wedstryd op die Fanie du Toit Sportgronde. Die Luiperds het in hierdie wedstryd soos krygers verdedig op hulle eie doellyn om keer op keer die Boland te stuit. Dit was maar net een van …

Die Luiperds het met aggressie en passie vir Boland gemaklik met 35-12 verslaan in vanaand (Vrydag, 31 Augustus) se Curriebeker Eerstedivisie wedstryd op die Fanie du Toit Sportgronde.

Die Luiperds het in hierdie wedstryd soos krygers verdedig op hulle eie doellyn om keer op keer die Boland te stuit. Dit was maar net een van die indrukwekkende aspekte van die Luiperds op die aand wat ook sterk met bal in hand vertoon het en vyf drieë teenoor die Boland se twee gedruk het.

Die flank, Boela Venter en senters, AK Nela en Bradley Moolman was van die Luiperds se helde op die aand.

Die Boland Kavaliers het die wedstryd vinniger begin toe die flank, Tapiwa Tsomondo oorgegaan het binne die eerste 5 minute.

Die Luiperds het wel vinnig hulle stem dikgemaak toe haker Marius Stander met brute krag oorduik. Die Luiperds losskakel, Gerhard Nortier, het toe met ‘n maklike doelskop die telbord 7-7 gemaak.

Die Luiperds het toe die hef in die hand gehad toe die regtervleuel, Jimmy Mpailane na ‘n skitterende agterlynbeweging oor is. Kort daarna het Nortier met ‘n onderskepdrie die Luiperds ‘n gemaklike 21-7 voorsprong gegee.

Boland se rolmaalbewegings was deurgaans sterk en hul haker, Clemen Lewis, het toe die agterstand na 21-12 vernou.

Die Luiperds se kaptein, Chriswill September moes toe net hierna ook die veld met ‘n kopbesering verlaat en dit kon die Luiperds se ritme belemmer het.

Die senter AK Nela het wel gesorg dat die Luiperds die laaste lag het toe hy met ‘n vinnige tikskoppie die Boland se verdedigers onkant gevang het om sy span met ‘n 28-12 voorsprong na die kleedkamers te stuur.

Die tweede helfte was ‘n baie taaier affêre met albei spanne wat geen spasie vir mekaar gegee het nie. Die besoekers het in die eerste 15 minute van die tweede helfte meer balbesit gehad, maar die Luiperds het telkemale hul man op die verdediging gestaan.

Daar was geen telling vir 38 minute van die tweede helfte nie, voor Moolman ‘n los bal op die 50 meter lyn opgetel het en met ‘n oop doellyn voor hom gaan druk het om die laaste sê te hê.

Luiperds: 35 (28)

Drieë: Marius Stander, Jimmy Mpailane, Gerhard Nortier, AK Nela, Bradley Moolman

Doelskoppe : Nortier (4)

Boland: 12 (12)

Drieë: Tapiwa Tsomondo, Clemen Lewis

Doelskoppe: Jacquin Jansen

https://www.nbcarsales.co.za/
https://www.nbcarsales.co.za/

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Potchefstroom Herald in Google News and Top Stories.

wouterpienaar01

I am the editor of the Potchefstroom Herald since January 2026. I have a keen interest for sport and local community news. I have more than a decade of experience covering various beats. Journalism is a lifestyle.

Related Articles

Back to top button