Bergfiets se bestes maak naam in Spurreeks
Potchefstroom Gimnasium se bergfietsryers het tydens die afgelope Noordwes Spur Skole Bergfietsreeks gewys dat hulle vinniger as die res kan trap met drie reekswenners in hulle stal. Die ervare Brendan van Eeden het in sy laaste jaar die junior seuns-kategorie te midde van stywe kompetisie gewen op Hoërskool Lichtenburg se gronde. Sy sussie, Joné van …
Potchefstroom Gimnasium se bergfietsryers het tydens die afgelope Noordwes Spur Skole Bergfietsreeks gewys dat hulle vinniger as die res kan trap met drie reekswenners in hulle stal.
Die ervare Brendan van Eeden het in sy laaste jaar die junior seuns-kategorie te midde van stywe kompetisie gewen op Hoërskool Lichtenburg se gronde. Sy sussie, Joné van Eeden het in die jeug dogters-afdeling ook die titel gevat, terwyl die jong Christiaan Smit in die sub-junior-kategorie ook die top posisie behaal het.
Buiten hierdie puik prestasies het hierdie bergfietsryers ook Noordweskleure verwerf, wat ‘n beloniging vir hulle konstante seisoen was. Natasha Roets (Gimmies), Karli Beukes (Ferdies) en Ansuné Fourie (Volkies) het ook Noordweskleure verwerf.
Volgens Brendan was hy in sy noppies met sy goeie seisoen wat hy as skoleryer op ‘n hoogtepunt afgesluit het.


“Die baan was plat en vinnig met ‘n lekker single track. Ek het goed gevoel van die begin af en dadelik op die aanval gegaan en die opponente onder druk geplaas. Op die 2de rondte het ek weggebreek en die gaping tot aan die einde gehou.
“Die wen het vir my baie beteken omdat dit my eerste jaar is wat ek in die voorloper trui gery het en vyf jaar se harde werk op ‘n hoogtepunt afgesluit het.
“Dit sou nie moontlik gewees het sonder die krag van die Here en die ondersteuning van my gesin en afrigter nie,” het Van Eeden gesê.




