Volkies klop Gimmies in nog ‘n riller
Na wat soos ’n gemaklike oorwinning vir Hoër Volkskool Potchefstroom se eerste krieketspan gelyk het, het Saterdag 1 September egter in nog ‘n naelbytstryd teen Potchefstroom Gimnasium in die Noordwes Premierliga geëindig. Volkskool het op hulle tuisveld hulle paaltjies een na die ander verloor in hulle jaagtog van 246, toe hulle op 174/3 na 26 …

Na wat soos ’n gemaklike oorwinning vir Hoër Volkskool Potchefstroom se eerste krieketspan gelyk het, het Saterdag 1 September egter in nog ‘n naelbytstryd teen Potchefstroom Gimnasium in die Noordwes Premierliga geëindig.
Volkskool het op hulle tuisveld hulle paaltjies een na die ander verloor in hulle jaagtog van 246, toe hulle op 174/3 na 26 boulbeurte nog goed in beheer was. Skielik was dit 205/8 en Gimmies kon bloed ruik, maar André Taljaard (53 van 62) en Lucian Coakley (23 van 14) het Volkies deurgetrek. Coakley het veral sy kolf geswaai en vuur met vuur aangevat – dit terwyl sommige ondersteuners eerder vir ‘n kalmer houding gevra het.
Gimmies se draaiers was byna die doodsteek vir Volkies en het na die waterbreek ekstra woema gekry. Dit was veral Ronald Hendricks met 3/60 en Ricus Swart met 2/45 wat die meeste skade aangerig het. Vroeër het die grasieuse kolfwerk van aanvangskolwer Van Zyl Smit die fondasie vir Volkies se lopiejaagtog met ‘n skitterende 87 (85) gelê.
Hy het 11 viere en ‘n ses gemoker en het ‘n honderdtal verdien, maar het met ‘n verbroude veeghou sy paaltjie van die boulwerk van Gerhard Turkstra verloor.
Vir Gimmies was Frans Viviers met 63 (62) en Robert Cameron 61 (110) die staatmakers vir met die kolf. Viviers het ’n berekende beurt gespeel en Gimmies ’n goeie platform saam met Cameron gegee.
Foto’s: Wouter Pienaar
Viviers was wel op ‘n interessante wyse uit toe hy gedink het dat hy uitgeboul is, min wetend dat die bal naelskraap sy paaltjies gemis het. Viviers was uit sy kolfkampie toe Volkies se paaltjiewagter, Christiaan Bester hom stonk.
Volkies se boulers het wel ekonomies geboul en hulle teenstanders beperk met Waldu Kotze (3/23), Christopher de Freitas (2/34) en Smit (2/40) wat Gimmies tot 245/8 beperk het. Jannie Claassens het die bal van die dag geboul toe hy van Ricus Swart met ‘n puik inswaaier ontslae geraak het toe hy die penne skraps getref het.
Gimmies se afrigter, Wian Lubbe, was steeds optimisties, al het sy span nie die knop deurgehaak nie.
“Ons spelers het bewys dat hulle kan speel en dat hulle nooit opgee nie. Daar was moeilike tye in die wedstryd, maar die manne het hulle hande opgesteek,” het hy genoem. Volkies se afrigter, Andries Huisamen, was bly oor die oorwinning, maar dit was nie die wyse waarop hy wou wen nie.
“Ons moes die wedstryd baie verder gewen het. Ek is bly oor die wen, maar teleurgesteld oor hoe ons gewen het.”



































