NWU mans swem die water aan die brand
Die NWU-Swemklub se manspan het weer eens die botoon gevoer tydens die jaarlikse Noordwes-kampioenskappe wat vanaf 6 – 9 Desember by die Potchefstroom Dam Ontspanningsoord se swembad plaasgevind het. Die klub het ‘n algeheel tweede plek uit 13 deelnemende swemklubs in die provinsie behaal, met die mans ‘n derde agtereenvolgende wegholoorwinning en die dames in …

Die NWU-Swemklub se manspan het weer eens die botoon gevoer tydens die jaarlikse Noordwes-kampioenskappe wat vanaf 6 – 9 Desember by die Potchefstroom Dam Ontspanningsoord se swembad plaasgevind het.
Die klub het ‘n algeheel tweede plek uit 13 deelnemende swemklubs in die provinsie behaal, met die mans ‘n derde agtereenvolgende wegholoorwinning en die dames in die derde plek.
Die gala word as die seisoen se plaaslike vlagskip byeenkoms beskou met tradisioneel uiters strawwe kompetisie tussen veral die twee Potchefstroomse swemklubs, Rustenburg Otters (die sterkste van die drie Rustenburgse klubs) en Harties Reflections, die sterkste klub in die Hartbeespoort area.
Die uitslae was voorspelbaar naby mekaar, met Potchefstroom swemklub (6 697) in die eerste plek, NWU (6 669) op hul hakke en Rustenburg Otters (6 376) derde.
Die entoesiastiese Pukke het 30 goue, 27 silwer en 41 bronsmedaljes ingepalm en verskeie byeenkomsrekords laat spat. Individuele medaljewenners op die podium was: Nadia Blaauw (5 goud, 4 silwer), Van Zyl Brand (4 goud, 3 silwer), Dané de Klerk (1 goud, 2 silwer, 4 brons), Retief Esterhuysen (1 silwer, 2 brons), Jace Gomes (3 silwer, 4 brons), Francois Goosen (1 brons), Malan Jacobsz (2 goud, 1 brons), Licinda Kleynhans (4 brons), Cornell Loubser (1 goud, 1 silwer, 4 brons), Marné Meyer (2 silwer), Deirdré Olivier (1 brons), Egbert Palmer (1 brons), Xandri Palmer (1 goud, 1 silwer, 2 brons), Amori Potgieter (2 brons), Mia Putter (2 goud, 1 brons), Dawid Rossouw (2 brons), Tiaan Rossouw (5 goud, 1 silwer, 1 brons), Dieter Roux (1 silwer, 7 brons), Janco Uys (3 goud, 4 silwer, 1 brons), Juandré Uys (2 goud, 1 silwer), Courtney van Biljon (3 goud, 2 silwer) en Morné van der Bank (1 goud, 3 silwer, 1 brons).
Wanneer die aflosse hierby verreken word, styg die klub se medalje-oes verder. Die mans 250m ouderdomsleer-aflos, met Malan Jacobsz, Jace Gomes, Tiaan Rossouw, Dieter Roux en Van Zyl Brand, het die vuur behóórlik gestook en die byeenkomsrekord op aanskoulike wyse verpletter. Daarbenewens is ses tweede plekke en twee derde plekke behaal, waarvan die meeste naelbyt eindpogings was.



