Jansen glimlag breed na groot krieketsukses
Die 18-jarige veelsydige kriekettalent van Potchefstroom en voormalige Gimmie, Marco Jansen, ken geen perke nie. Hy het dit weer eens bewys by die afgelope 2018 Khaya Majola o.19 Krieketweek wat vanaf 16 tot 20 Desember in Kaapstad plaasgevind het. Jansen het vir Noordwes se top skolespan uitgeblink en die toekenning vir die veelsydigste speler van …
Die 18-jarige veelsydige kriekettalent van Potchefstroom en voormalige Gimmie, Marco Jansen, ken geen perke nie.
Hy het dit weer eens bewys by die afgelope 2018 Khaya Majola o.19 Krieketweek wat vanaf 16 tot 20 Desember in Kaapstad plaasgevind het.
Jansen het vir Noordwes se top skolespan uitgeblink en die toekenning vir die veelsydigste speler van die week verower, wat ‘n groot eer is vir hierdie belowende voormalige Gimmie.
Dit was nie die enigste kersie op die koek vir dié jong krieketster nie. Hy is ook vir die SA o.19 krieketspan gekies wat vanaf 16 Februarie tot 12 Maart in Indië gaan toer.
Sy pa, Koos Jansen, was behoorlik in sy noppies met sy seun se insluiting in die SA o.19-span.
“Ons as familie is ongelooflik trots op die man en weet dit het baie ure in die nette gevat, sowel as ongelooflik baie deursettingsvermoë. Ons almal se bors bars van trots,” het hy Dinsdagmiddag genoem.
“Dit was vir my ‘n groot eer om die toekenning vir veelsydigste speler te kon kry. Dit was my doelwit voor die week om net my beste te gee met die kolf en die bal en as ek die toekenning sou kry, sou dit ‘n bonus wees. Dit is die heel eerste keer wat ek ‘n prys by ‘n groot toernooi gekry het,” sê Jansen trots.
“Ek speel krieket juis om dit te geniet saam met vriende. Ek dink dit is ook belangrik om persoonlik te groei. In die begin van die toernooi was my kolfwerk nie die beste nie, maar ek het aanhou werk om weer in vorm te kom,” vertel Jansen, wat met die beste boulsyfers van 6/26 in die Cokeweek gespog het.
Hy gaan vanjaar ‘n diploma in afrigtingswetenskap aan die NWU studeer na ‘n baie suksesvolle skolekrieketloopbaan. In hierdie tydperk sal hy dan ook vir die NWU op die krieketveld uitdraf en gaan hy probeer om vanjaar die Varsity Krieketspan te haal.
“Niemand kan vooruit beplan nie, maar ek sal graag die NWU se Varsitykrieketspan wil haal en dan ook gereeld vir die Noordwes Dragons speel,” noem hy. Sy trotsste oomblik tot dusver was juis toe hy sy debuut vir die Noordwes Dragons in April laasjaar in die finaal van die provinsiale eendagfinaal op die Wanderers in Johannesburg gemaak het.
“Dit was vir my ongelooflik en ek sou nooit kon dink dat ek op skoolvlak reeds vir die Dragons sou kon speel nie. Natuurlik was die toekenning by die Coke-week ook ‘n groot hoogtepunt.”
Met ‘n handjievol wedstryde op semi-professionele vlak agter sy naam en ‘n blink pad vorentoe, is dit seker dat Potchefstroom nog baie van hierdie linkerarm naatbouler en regter-handse kolwer gaan hoor.



