Wêreldklas atlete gaan volstoom voort in Potchefstroom
As ‘n mens op die Bult rondry, sal jy seker bewus weer dat daar ‘n string atletiese dames en mans hierdie tyd van die jaar Potchefstroom warm hardloop. Dit is natuurlik nie net enige drawwers nie, aangesien hierdie van die wêreld se top atlete is wat hulle voorseisoenvoorbereiding in Potchefstroom kom aanpak. Dit is natuurlik …
As ‘n mens op die Bult rondry, sal jy seker bewus weer dat daar ‘n string atletiese dames en mans hierdie tyd van die jaar Potchefstroom warm hardloop.
Dit is natuurlik nie net enige drawwers nie, aangesien hierdie van die wêreld se top atlete is wat hulle voorseisoenvoorbereiding in Potchefstroom kom aanpak.
Dit is natuurlik ‘n aanwins vir Potchefstroom op beide ‘n ekonomiese en bemarkingsgebied.
Meer as 20 lande se atlete is tans in Potchefstroom gedurende Europa se koue winter, sodat hulle in die warm Suidelike halfrond behoorlik die sweet kan laat tap. Atlete kies juis elke jaar Potchefstroom weens die uitstekende fasiliteite, goeie weer, logistieke gemak van die stad, sowel as die hoogte bo seespieël wat atlete ‘n uitstekende kans gee om hulle beste oefening in te kry.
Die Hoë Prestasie Instituut (HPI) van die NWU is weer aan die stuur van sake en tesame met NWU Sport poog hulle om die wêreld se top atlete na Potchefstroom te bring en om ‘n wêreldklas atmosfeer te skep – iets wat jaar na jaar uitstekend volbring word.
Volgens die HPI bestuurder, Jean Verster, is daar juis ‘n klomp lande wat hierdie jaar verteenwoordig is met party atlete wat al sedert November tot en met Maart die fasiliteite van die NWU en die HPI gebruik.
“Daar is atlete van Pole, Ierland, die Verenigde Koninkryk, Italië, Switserland, Frankryk, Slowakye, Slowenië, Griekeland, Nederland, Hongarye, Siprus, Ysland, Denemarke, Swede en Katar tans in Potchefstroom,” noem Verster.
Hy noem ook dat van die atlete weer in Augustus en September na Potchefstroom gaan terugkeer, weens die feit dat die IAAF Wêreldatletiekkampioenskappe later vanjaar in Katar eers in September gaan plaasvind.
“Baie atlete sal in Augustus hier kom oefen en sommer direk na die Wêreldkampioenskappe in Katar vlieg, aangesien dit ‘n korter roete is.
Dit gebeur nie baie dat atlete daardie tyd kom oefen nie, so ons het vanjaar nogal ‘n vol program wat dit aanbetref,” het Verster gesê.




