SportSport

NWU oordonder UJ met stralende oorwinning

Die NWU se kwiksilwer Varsitybekerkrygers het hulle veldtog met ‘n oortuigende 23-8 oorwinning teen UJ vanmiddag (4 Februarie) in Johannesburg begin. Weerlig wat bo die UJ-stadion geslaan het, het die wedstryd met 13 minute speeltyd oor gestaak en die skeidsregters en beamptes het toe besluit om die wedstryd vroegtydig te stop met die telling 23-8 in …

Die NWU se kwiksilwer Varsitybekerkrygers het hulle veldtog met ‘n oortuigende 23-8 oorwinning teen UJ vanmiddag (4 Februarie) in Johannesburg begin.

Weerlig wat bo die UJ-stadion geslaan het, het die wedstryd met 13 minute speeltyd oor gestaak en die skeidsregters en beamptes het toe besluit om die wedstryd vroegtydig te stop met die telling 23-8 in die NWU se guns – ‘n eerste in Varsitybekergeskiedenis. Die spelers se veiligheid was natuurlik van groter belang.

Die NWU was wel op hete kole van die afskop af en vuurwarm met twee drieë in die eerste 15 minute.

Eers was kaptein, Chucky van der Westhuizen oor na ‘n verwoestende 30 meter rolmaalbeweging waar die NWU behoorlik hulle spiere gewys het. Van der Westhuizen het ‘n puik wedstryd beleef waar hy by die afbreekpunte en in verdediging rotsvas was.

So kragtig en aggressief die eerste drie was, hoe elegant en stylvol was die tweede een met die blondekop blits, regtervleuel,  Pienaar van Niekerk wat in die hoekie gaan druk het na ‘n pragtige systap wat UJ se flank, Khanya Ncusane, geflous het.

Kort daarna is die UJ-skrumskakel, Jack Hart met ‘n geel kaart afgestuur nadat hy ‘n sekere drie met desperate spel gekeer het. Chuiner van Rooyen, die voormalige Helmekaar-man was ‘n staatmaker vir die NWU en het met sy flink lopies die hele wedstryd vir UJ op hulle tone gehad.

UJ het wel in die eerste helfte ook ‘n kans gehad om ‘n drie van hulle eie in te palm, maar flank, Edwin Jansen het die bal sentimeters voor die drielyn uit sy bottervingers laat tuimel.

Om nog sout in UJ se wonde te krap op het die voormalige UJ-losvoorspeler, Wian Conradie ook gedurig moeilikheid vir sy voormalige spanmaats gemaak. Saam met Wandi Mazibuko en Gideon van der Merwe het hulle UJ geen blaaskans in die losgemaal gegee nie.

In die tweede helfte het UJ eerste punte aangeteken met Jean-Luc Cilliers wat ‘n strafkop oorgeklits het na toenemende druk van die tuisspan af.

Met momentum aan hulle kant het die UJ se doelgerigte binnesenter, Cyprian Nkomo het toe soos ‘n wafferse voorspeler oorgeduik om die gaping na 6 punte te verklein na 14-8.

Direk hierna het die NWU weer hulle skietgoed uitgehaal en teruggevuur met linkervleuel, Lungelo Gosa wat in die hoek oorduik. Dit was als danksy Conradie se stormlopie en Van Rooyen se flink voete in die aanloop tot die drie waar laasgenoemde verby vier verdedigers versnel het.

Opgesom, het die NWU verdien om die wedstryd te wen, en al het die wedstryd nie die volle 80 minute geduur nie, kan hulle met skouers hoog na Potchefstroom terugkeer.

Lees meer in komende week se Potchefstroom Herald oor al die besonderhede en belangrikste oomblikke in die wedstryd. 

 NWU:

Drieë: Chucky van der Westhuizen, Pienaar van Niekerk, Lungelo Gosa

Doelskoppe: Schalk Hugo (3)

UJ:

Drieë: Cyprian Nkomo

Strafskoppe: Jean-Luc Cilliers

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Potchefstroom Herald in Google News and Top Stories.

wouterpienaar01

I am the editor of the Potchefstroom Herald since January 2026. I have a keen interest for sport and local community news. I have more than a decade of experience covering various beats. Journalism is a lifestyle.

Related Articles

Back to top button