SportSport

Maties bring NWU terug aarde toe met 43-15 nederlaag

Die generaal van NWU se ondergang was Maties se blitsvleuel, Edwill van der Merwe, wat ‘n driekuns van drieë behaal het.

Maties se maroen skerpskutters het te veel ammunisie vir die NWU se pers soldate in Stellenbosch gehad vanaand (Maandag 4 Maart) in ‘n oortuigende 43-15 oorwinning in die Varsitybeker.

Die generaal van NWU se ondergang was Maties se blitsvleuel, Edwill van der Merwe, wat ‘n driekuns van drieë behaal het.

‘n Swak uitgevoerde wedstrydplan, verbeeldinglose aanval, sowel as te min aggressie en bystand by die afbreekpunte was ook deel van die NWU se kommerpunte.

Maties het ‘n klomp balle gesteel, hulle kanse gebruik en die NWU se verdedigers op hulle tone gehad.

Die wedstryd kon nie slegter vir die NWU begin het nie na swak besluitneming in hulle eie kwartgebied tot die Maties se eerste drie gelei het. Die besoekers moes die bal uitskop, maar Maties kon die bal omdraai by die afbreekpunt en voor die Pukke hulle oë kon uitvee was hulle 7-0 agter toe HJ Luus gaan druk en Jordan Chaite verdoel.

Van daar af was die momentum aan Maties se kant met die NWU wat gedrurig moes verdedig. Toe die NWU die bal in die hand gehad het het hulle ook nie veel daarmee gedoen nie en half besluitloos die bal rondgehoop met die hoop om deur Maties se damwal te breek.

Maties het meer gevaarlik op die aanval gelyk en na ‘n halfuur se asemrowende heen en weer spel het die ervare Matie, Edwill van der Merwe, se drietokse aangetrek en agter die pale gaan kuier na ‘n puik skoppie van Chris Smit in die hoekie om die telling 19-3 te maak.

Die NWU het wel in die laaste 5 minute gewys dat hulle steeds in die wedstryd is toe flank, Gideon van der Merwe, oorduik na ‘n lynstaan-rolmaalbeweging. Met halftyd het Maties 22-10 voorgeloop danksy ‘n laaste strafskop net voor die rusbreek.

Maties het die telling na halftyd vergroot toe Edwill van der Merwe vir sy tweede drie oorduik na ‘n pragtige agterlynbeweging om die telling na 29-10 te stoot.

Van der Merwe het sy span se vierde en sy derde drie gaan druk om die Matie-skare in vervoering te los en van daar af was daar geen kans vir die NWU met die telling op 36-10 met slegs 25 minute oor nie.

Jonathan Mokuena se span moes die res van die wedstryd aanhou verdedig en het ‘n paar harde lakke ingekry en ‘n paar keer op hulle eie doellyn om ekstra skade te verhoed. ‘n Ongedwonge lynstaanfout het tot die laaste Maties-drie gelei met haker, Daniel Jooste wat ‘n los bal optel en oor die lyn suiker. WIan Conradie, NWU agtsteman het wel die laaste sê gehad toe hy die NWU se tweede drie druk in ‘n teleurstellende aand vir die Potchefstromers.

Lees meer in komende week (7 Maart) se Potchefstroom Herald

NWU: 15 (10)

Drieë: Gideon van der Merwe, Wian Conradie

Doelskoppe: Schalk Hugo

Strafskoppe: Schalk Hugo

 Maties: 43 (22)

Drieë: HJ Luus, Edwill van der Merwe (3), Daniel Jooste

Doelskoppe: Jordan Chait (4)

Strafskoppe: Jordan Chait

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Potchefstroom Herald in Google News and Top Stories.

wouterpienaar01

I am the editor of the Potchefstroom Herald since January 2026. I have a keen interest for sport and local community news. I have more than a decade of experience covering various beats. Journalism is a lifestyle.

Related Articles

Back to top button