Ouderdom is net ‘n nommer vir talentvolle rolbalspeler
JD Delport (15) is op sy jong ouderdom besig om die geykte rolbalstereotipes met sy passie vir die spel by die Potchefstroom Buiteklub se grasgroen rolbalbane te breek. Hierdie leerder van Volkies speel nie die sportsoorte wat sy maats op skool doen nie, maar dit pla hom glad nie, aangesien hy iets ontdek het waarin …
JD Delport (15) is op sy jong ouderdom besig om die geykte rolbalstereotipes met sy passie vir die spel by die Potchefstroom Buiteklub se grasgroen rolbalbane te breek.
Hierdie leerder van Volkies speel nie die sportsoorte wat sy maats op skool doen nie, maar dit pla hom glad nie, aangesien hy iets ontdek het waarin hy rustigheid en pret vind.
Sy mede rolbalspelers by die klub is ook net so in hulle noppies met hoe JD se spel die afgelope ses maande gevorder het, veral omdat hy nou vir die Noordwes o.20 rolbalgroep vir die SA rolbalkampioenskappe gekies is.
“Ek speel vanaf Oktober laasjaar en het sosiaal gespeel. Mense het toe vir my gesê dat ek goed speel en toe besluit ek om aan die NW o.20 rolbalproewe deel te neem, waar ek toe gekies is,” verduidelik JD.
JD se stiefouma was die katalisator vir sy rolbalnuuskierigheid en kort voor lank was JD saam met sy hele familie op die baan.
“My familie het besluit om rolbal te gaan speel een middag, en toe nooi hulle my saam. Van daar af het ek aangesluit by PCC.”
JD se rolmodel is Potchefstroom Rolbalklub se goue seun en SA Proteaspeler, Pierre Breitenbach, wat ook op ‘n jong ouderdom by dié sport betrokke geraak het.
“Pierre is nou al ‘n Proteaspeler en hy het ook jonk begin, so hy is iemand waarna ek opkyk. Ek sal ook graag eendag vir SA wil verteenwoordig by ‘n Statebondspele,” noem JD.
JD se rolbalfilosofie is ook eenvoudig – wees so rustig as moontlik en speel jou spel tot die beste van jou vermoë.
“Dit is belangrik om gefokus op die wedstryd te wees en nie te veel te stres nie. Dit is ook belangrik om genoeg te oefen,” brei JD uit wat ‘n klomp middae van 15:00-18:00 balle vir Afrika rol.
“Rolbal is eintlik ‘n moeilike spel. Ek geniet rolbal omdat dit my afleiding gee van die skoolwerk af en iets lekker gee om my besig te hou.”