Engeland wag vir twee van Potch se top onderwaterhokkie-sterre
Twee van Potchefstroom se woelwater o.19 onderwaterhokkie-spelers, Angeleah Moss en Luria van der Walt, is op pad na Sheffield in Engeland om Suid-Afrika by die o.19 Onderwaterhokkie Wêreldkampioenskappe te verteenwoordig. Hierdie kampioenskappe wat vanaf 14-24 Augustus plaasvind, gaan ‘n gulde geleentheid vir hierdie twee opwindende spelers wees om hulle merk te maak en weer eens …
Twee van Potchefstroom se woelwater o.19 onderwaterhokkie-spelers, Angeleah Moss en Luria van der Walt, is op pad na Sheffield in Engeland om Suid-Afrika by die o.19 Onderwaterhokkie Wêreldkampioenskappe te verteenwoordig.
Hierdie kampioenskappe wat vanaf 14-24 Augustus plaasvind, gaan ‘n gulde geleentheid vir hierdie twee opwindende spelers wees om hulle merk te maak en weer eens ‘n medalje huis toe te bring, net soos die vorige o.19-span wat brons behaal het.
Moss (18) is tans in matriek aan Hoërskool Ferdinand Postma en het by die sport betrokke geraak danksy die ervare Protea onderwaterhokkie-afrigter, JD Aucamp, wat ook ‘n onderwyser by Ferdies is.

“Ek het by meneer JD gehoor van die sport en toe besluit om deel te neem. Sover gaan dit fantasties en ek is ook nou in die SA-groep, wat vir my ‘n droom is wat waar geword het,” vertel Angeleah.
Luria (16) ontvang tuisonderrig en kom uit ‘n familie wat in swem en onderwaterhokkie uitblink – dit was dus net natuurlik dat Luria ook groot hoogtes sou bereik. “Ek sien uit na my eerste wêreldkampioenskappe en om ervaring op te doen, gaan vir my lekker wees. Ek is baie opgewonde,” vertel Luria.
“Dit gaan vir my fantasties wees om saam met die span te kan speel, alhoewel die kompetisie nogal stresvol sal wees,” noem Angeleah, wat as ‘n voorspeler speel. Volgens hulle afrigter, Pamela Mackor, is dissipline, spanwerk asook harde werk die nodige bestanddele wat hierdie twee spelers tot bo gebring het.
“Dit help ook baie dat hulle sterk bo in hulle kop is en die spel goed verstaan en uitdagings kan oorkom,” vertel ‘n trotse Mackor.



