Daar is nie genoeg voortreflike byvoeglike naamwoorde om Janise Nell (15) se prestasies by die afgelope SASA Nasionale Hoërskole Atletiekkampioenskappe wat vanaf 21 tot 23 Maart in Port Elizabeth gehou is, te beskryf nie.
Nell, ‘n leerder van Hoër Volkskool Potchefstroom, het ‘n nuwe SA rekord van 24:54.14 in die 5000m vir dogters o.15 stap opgestel wat plaaslike en nasionale media se aandag getrek het. Hierdie uitstekende stapper het die vorige rekord met omtrent ‘n minuut gebreek en het sodoende vir haar prestasies ook met die beste baanatleettrofee by die byeenkoms weggestap.

Nell is al sedert haar o.13 SA oorwinning in 2017 in die 1500m stap in Potch, op ‘n opwaartse sukseskurwe en soos dinge nou staan, kan sy nog haar naam by vele ander rekords in die toekoms ingraveer en haar voetspore in die geskiedenisboeke los. Om die kersie op die koek te sit is Nell ook tans die nommer 2 atleet in die wêreld in stap in die dogters o.18-afdeling volgens die IAAF ranglys, wat ‘n noemenswaardige veer in haar hoed is.
Lees meer in hierdie week se Potchefstroom Herald (28 Maart)



