
Potchefstroom se top netbalspanne het die afgelope naweek by die Noordwes Skole netbalfinale op Saterdag, 8 Junie by Potch Gimmies se netbalbane uitgeblink.
Gimmies se o.16A-span het tuisvoordeel treffend tot hulle voordeel gebruik toe hulle as Noordweswenners uit die stryd getree het. Hierdie span wat die voormalige NWU-netbalspeler, Marike Maree, afrig, het die ander spanne ore aangesit en hulle plek in die SA Nasionale Skole Kampioenskappe oopgespeel. Dit vind vanaf 18-21 Julie in Boksburg plaas. Dié o.16-A span het vir Bergsig Akademie met 22-10 in die eindstryd geklop.
Gimmies se ander uitblinkers is hulle eerstespan wat tweede eindig, die o.17A-span derde en die o.14A’s met ‘n vierde plek. Volkies se eerstespan onder die leiding van Morné Smit, behaal die derde plek. Hulle het ook vir die SA Kampioenskappe gekwalifiseer.
Foto’s: Wouter Pienaar
Beide Volkies en Gimmies kon nie vir Hoërskool Rustenburg onttroon nie, wat vir die vyfde jaar in ‘n ry die eerstespantitel in Noordwes verower.
Volkies se o.16A-span gaan ook SA’s toe en sal met die ervare Irene Seymore en Anja Herbst komende maand ‘n goeie vertoning wil opsit.












































