Potchefstroom se bekende en dinamiese hokkieskeidsregter, Annelize Rostron, se Olimpiese Spele-droom is bewaarheid nadat sy as een van die 14 top hokkieskeidsregters gekies is wat by die 2020 Olimpiese Spele in Tokio, Japan gaan blaas.
Rostron is sinoniem met hokkie op alle vlakke. Sy is een van die mees gerespekteerde skeidsregters in die wêreld, met 82 internasionale wedstryde op haar kerfstok. Sy was al onder meer by die Hokkie Wêreldbeker en Statebondspele as skeidsregter betrokke, maar nou het sy uiteindelik die groot mylpaal van ‘n Olimpiese Spele bereik.
“Ek is ontsettend bly, omdat ek net net op die 2016 Olimpiese Spele uitgemis het. Daar was ‘n ‘Road to Tokyo’-groep wat uit oor die dertig skeidsregters bestaan het. Daarna word die groepe uitgedun tot 22, waarna die finale 14 gekies word. Ek was in Pick n Pay toe ek gehoor het dat ek Tokio toe gaan. Dit is ‘n droom wat waar word,” vertel Rostron, wat saam met Michelle Joubert die enigste twee vroue skiedsregters van Suid-Afrika is wat by die 2020 Olimpiese Spele gaan blaas.

Buiten haar liefde vir skeidsregting is sy ook ‘n uitstaande hokkieafrigter by Laerskool Mooiriver, waar sy ook ‘n onderwyseres is.
“Mooirivier en veral die voormalige hoof, Ruben Jacobs, het altyd verstaan dat ek my drome in hokkie najaag en was baie tegemoetkomend. Die lekker ding van afrigting by die skool is dat dit bietjie geleentheid gee om van die skeidsregting weg te breek en op ander aspekte van hokkie te fokus, wat ook goed is. Ek is mal oor skoolhou en dit bring balans in my lewe.”
Sy sê ook dat haar driejarige seuntjie Jordan, haar goed besig hou en dat sy wanneer sy kan, tyd saam met hom en haar man, Sheldon (NWU se Sportbestuurder en voormalige SA vrouehokkieafrigter) spandeer.
“Die lekker ding is dat beide ek en Sheldon verstaan dat ons albei vir werk oorsee gaan en mekaar se liefde vir hokkie ook deel. Ek het ook vriende wat ek mee gesels wat nie in sport is nie, so dit help ook om die balans te handhaaf,” vertel sy.
Rostron se liefde vir hokkie het al op skool begin. Sy het vir die NWU hokkie gespeel, voordat ‘n achilles-besering haar tyd as speler kortgeknip het.
“Ek wou graag by hokkie betrokke bly en het besluit om as skeidsregter betrokke te raak omdat ek dan steeds op die baan en veld kan wees,” noem sy.
Rostron se betrokkenheid by skeidsregting het eintlik per toeval in 2005 gebeur toe daar uit dringendheid ‘n skeidsregter vir ‘n wedstryd benodig is. Die res is geskiedenis. Na klomp wedstryde in die provinsie en SA het sy van daar af haar eerste internasionale toernooi in 2012 in België geblaas en verskeie top wedstryde met haar fluitjie en skerp sin van die spel gereguleer.
“My gunsteling wedstryde was ‘n Internasionale Wêreldliga-wedstryd tussen Argentinië en Duitsland in 2013, asook die Wêreldbekerwedstryd in 2018 tussen die VSA en Engeland. Albei wedstryde het groot en luidrugtige skare gehad. Ek het gesukkel om te slaap daardie aand omdat die geraas van die toeskouers steeds in my ore was,” vertel Rostron laggend.
Nou wink die Olimpiese Spele en nog groot oomblikke wag op hierdie hokkiemal Potchefstromer wat heel moontlik omtrent vyf wedstryde by dié skouspelagtige toernooi sal blaas.
“My doelwit is om die 100–wedstryd mylpaal te haal. Ek wil graag die goue fluitjie-toekenning hê. Dan wil ek kyk of ek so lank as moontlik skeidsregting kan doen tot op die ouderdom van 45,” vertel sy.
“Skeidsregting is nie altyd maklik nie omdat jy fisies en geestelik gereed moet wees. Ek gaan juis daarop fokus voor die Olimpiese Spele, omdat die druk baie is en baie oë op ‘n mens is. Ek sien uit na die geleentheid en ervaring en om dit voluit te geniet.”



