SportSport

NWU uiteindelik op die wenpad na hul Shimlas in Potch klop

Die NWU het meer sprankelende rugby gespeel, maar het gesukkel om geleenthede af te rond.

Die NWU het hulle eerste oorwinning van vanjaar se Varsitybeker op tuisveld ingepalm nadat hulle ‘n beleërde Shimlas met 27-19 vannaand (17 Februarie) op die Fanie du Toit Sportgronde geklop het.

In ‘n stryd waar ongedwonge foute die spel soms laat stagneer het, het die NWU dit reggekry om meer balbesit te hou en op kritieke tye die oorhand te behou.

Die NWU het meer sprankelende rugby gespeel, maar het gesukkel om geleenthede af te rond.

Danny du Plooy vang die bal na ‘n afskop. Foto: Barco Greeff.

Vroeg het die Namibiese losskakel van die NWU, Wihan von Wielligh, ‘n goeie lopie gemaak maar was net betyds platgetrek. Von Wielligh het die spel met sy skopskoen begin beheer in die eerste puntlose 10 minute.

Von Wielligh het die eerste punte van die helfte met ‘n strafskop aangeteken om die NWU met 3-0 voor te loop.

Na konstante druk het die linkervleuel, Eugene Hare, oorgeduik na ‘n lang aangee en met Von Wielligh se verdoeling was die telling 10-0.

Kort daarna het NWU skrumskakel, Riaan Genis, die bal in krisistyd aspris aangeslaan en die skeidsregter het daarvolgens ‘n strafdrie gegee. Die telling is toe 10-9.

Die stampvol skare was soms rusteloos. Foto: Barco Greeff.

Die NWU het nie hul koppe te lank gesak nie en na herhaalde balbesit in die Shimlas se 22 is slot Danny du Plooy oor om die NWU gemakliker te laat asemhaal met die telling 17-9 teen halftyd.

Die NWU het wel te veel ongedwonge foute gemaak en kon nie Shimlas aan die begin van die tweede helfte bêre nie. Die betroubare Von Wielligh het die eerste punte vir die NWU in die tweede helfte aangeteken om die tuisspan ‘n 11 punt voorsprong te gee.

Die ervare senter AK Nela het na herhaalde fases deur die Shimlas-muur gebreek om die NWU op die wenpad met 14 minute speeltyd oor te stuur met die telling 27-9 in die pers manne se guns.

Die manne van Bloemfontein het veggees gewys en die haker, Jacques Thyssen is na ‘n rolgemaal oor. Die vleuel, Siyanda Cele het ook op die bittereinde vir die Shimlas oorgeduik. Johan Duvenage kon wel nie verdoel nie en teen daardie tyd was dit te laat vir ‘n ware terugvegpoging.

Van die top uitblinkers vir die NWU was Van Wielligh met ‘n foutlose skopvertoning, Eugene Hare, sowel as Danny du Plooy wat puik in die lynstaan gefunksioneer het.

Punte:

NWU: 27 (17)

Drieë: Eugene Hare, Danny du Plooy, AK Nela

Doelskoppe: Wihan von Wielligh (3)

Strafskoppe: Von Wielligh

Shimlas: 19 (9)

Drieë: Strafdrie (7), Jacques Thyssen, Siyande Cele

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Potchefstroom Herald in Google News and Top Stories.

wouterpienaar01

I am the editor of the Potchefstroom Herald since January 2026. I have a keen interest for sport and local community news. I have more than a decade of experience covering various beats. Journalism is a lifestyle.

Related Articles

Back to top button