Dit is soms nodig om ‘n skuif te maak om jou loopbaan vars lewe te gee en dit is presies wat die talentvolle voormalige Gimmie-naatbouler en kaptein, Marco Jansen (19), die afgelope week gedoen het.
Jansen, wat die afgelope jaar by die Knights in Bloemfontein diens gedoen het, gaan nou sy vlerke sprei en vir die Warriors-Franchise in die Oos-Kaap speel.
Die hotklou bouler het die afgelope paar maande ook vir die SA A-span uitgedraf en ieder en elk beindruk. Jansen het ook die vooreg gehad om die legendariese “Witblits”, Allan Donald, as afrigter te hê.
“Ek’t my tyd by die Knights baie geniet al was dit ‘n kort tydtjie gewees. Ek’t geleer om verantwoordelik te wees vir alles wat ek doen of dit nou by oefening, en of dit nou op of af die veld was. Net deur harde werk gaan jy die vrugte pluk.”
Jansen het wel nie so baie speelkans gekry altyd nie, aangesien kompetisie by die Knights streng is. Hy glo dat hy by die Warriors sy stempel kan afdruk onder die afrigting van nog ‘n voormalige Protea, Robin Peterson.
“Ek is baie opgewonde om na Warriors toe te gaan vir die nuwe seisoen wat kom en die nuwe uitdagings wat voorlê,” het hy beaam.
Die voormalige Dragons veelsydige speler, Wihan Lubbe, is ook deel van die Warriors se groep vir die 2020/21 seisoen. Jon-Jon Smuts sal die Warriors as kaptein lei.