Die Luiperds Rugbyunie brul in hul 100ste bestaansjaar steeds kliphard as een van die top geskiedkundige en gerespekteerde rugbyunies in Suid-Afrika.
Die unie sou verlede Saterdag, 23 Mei hulle eeufeesvieringe met ‘n rugbydag gevier het, maar weens die koronavirus moes daardie planne eers opsy gesit moet word.
Die beplande rugbydag sou ‘n fees van klub-, skole- en provinsiale rugby wees met ‘n Volkie-Gimmie Classic Clash as ‘n vertoonwedstryd vir die hoofmaal wat ‘n Luiperds teen Namibië-stryd sou wees. Dit sou op die geskiedkundige Olënpark gehou word.

Nietemin het huidige en oudspelers, administrateurs en ondersteuners op sosiale media gelukwensings en herinneringe gedeel en ook genoem wat die Luiperds in die 100 jaar so spesiaal maak.
Die president van die Luiperds Rugbyunie, Mervyn Taylor, noem dat dit ‘n ongelooflike trotse prestasie vir die unie is wat in 1920 sy deure vir die eerste keer oopgemaak het (lees meer op bladsy 11).
SARU president, Mark Alexander, het ook sy gelukwensinge met die unie gedeel.
Die huidige kaptein van die Luiperds, Edmund Rheeder, het sy dankbaarheid teenoor die unie uitgespreek wat hom sedert sy skooldae ondersteun het.
“Dit is ‘n groot voorreg om 100 jaar as ‘n unie te bestaan. Dit is regtig wonderlik, maar hartseer dat ons nie die 100 jaar met ‘n wedstryd kan vier nie.
Die unie het al ‘n paar legendes gehad wat diep spore getrap het. Dit beteken baie vir die unie om 100 jaar oud te word,” het Rheeder beklemtoon
“Baie dankie vir al die ondersteuning op sosiale media met al die ou foto’s en stories wat gedeel is. Ek is bevoorreg dat ek al in 81 wedstryde vir die Luiperds uitgedraf het en ek glo nog ‘n paar keer. Wees veilig en bly gesond,” het Luiperds flank, HP Swart, die afgelope Saterdag op sosiale media vir die Luiperds ondersteuners genoem.

Die Luiperds was eers as die Wes-Transvaal Rugbyunie, oftewel die Mielieboere, bekend.
Die unie het ‘n reputasie om van die beste jong spelers in top kwaliteit spelers te ontwikkel en dien as ‘n kweekskool vir van die top talent in SA Rugby, weens die unie se noue verbintenis met die NWU Rugbyinstituut.
Groot name wat deel van die Luiperds tradisie was, is Jeandré Rudolph, Rhyno Smith, Walt Steenkamp, Louis van der Westhuizen, Juan Language, Danie Dames, Edgar Marutlule, Robert Kruger, Luther Obi en vele ander.

Toe die unie nog as die Wes-Transvaal Rugbyunie bekend was, was die voormalige Springbokslot, prof. Johan Claassen, sekerlik die bekendste Mielieboer. Ander baanbrekers sluit onder meer Jaguar de Jager, Jan Tromp, Gert Smal, Tjaart Marais en Eugene Hare in.
Piet Bosman wat vir meer as twee dekades president was, bly ‘n legende in Luiperdskontrei, sowel as ander presidente soos André May, James Stoffberg en Jan Fourie wat die skip in goeie en moeilike tye op koers gehou het.

In ‘n 100 jaar het daar al te veel wedstryde en gebeurtenisse uitgestaan soos Britse Leeus toere, Curriebekerwedstryde, en ‘n besonderse All-Blacks-stryd in die reën in 1997. Daar is letterlik net nie genoeg plek om oor alles te berig nie.




