SportSport

Sport is deel van haar DNS

Sport het nog altyd in Lee-Anne Diab se are gevloei, maar toe sy met die wetenskap agter sport kennis maak, het haar passie behoorlik vlamgevat.

Sport het nog altyd in Lee-Anne Diab se are gevloei, maar toe sy met die wetenskap agter sport kennis maak, het haar passie behoorlik vlamgevat.
Lee-Anne het soos ‘n veldbrand naam gemaak en is ‘n droom in 2010 bewaarheid toe sy as intern sportwetenskaplike by die Blou Bulle aangestel is.

Sy was vanaf 2014 tot 2017 voltyds aangestel en besit tans haar eie maatskappy, waar sy met ‘n verskeidenheid sportpersoonlikhede werk. Lee-Anne is ‘n trotse Noordwes voorbeeld van hoe vroue hulle stempel in ‘n mansgedomineerde rugbywêreld afdruk.

“Sport is soos tweede natuur en deel van my DNS. Ek het self ook provinsiale hokkie gespeel en wou op ‘n ander manier iets aan sport teruggee.”

Lee-Anne is ‘n voormalige student aan die NWU en ‘n trotse Noordwester wat in Sannieshof grootgeword het en in 2006 aan Hoërskool Sannieshof gematrikuleer het. Sy het in 2007 Menslike Bewegingskunde en Sielkunde aan die NWU studeer en in 2012 ‘n honneursgraad in sportwetenskap verwerf.

“Ek was bevoorreg om as student in ‘n Hoë Prestasie Omgewing te kon leer, groei en floreer. Daar waar ek my passie en doel kon uitleef. Jy word gedurig blootgestel aan ‘n hoë standaard in die veld van Sportwetenskap. Ek is dankbaar oor die persoonlike verhoudings wat ek deur die jare met my dosente opgebou het en met wie ek vandag nog ‘n pad stap,” vertel Lee-Anne.

By die Blou Bulle het Lee-Anne dit die meeste geniet om met atlete te werk en te sien hoe hulle groei en hulle volle potensiaal bereik.

“’n Dag in die lewe van ‘n sportwetenskaplike sluit vroeë oggende, lang ure en ‘n verskeidenheid toetse vir spelers in. Spelers word daagliks gemonitor om seker te maak hul oefen optimaal teen hoë intensiteit om ooroefening of uitbranding te voorkom.”

Lee-Anne is tans besig om vroue in die veld en in sport op te lei met haar maatskappy, Fierce Pro Recovery, wat as platform dien.
“Fierce Pro Recovery het ontstaan met die doel om atlete vinniger te laat herstel tydens oefensessies, wedstryde en beserings.

Dit bied aan my die vryheid om atlete se lewens te verryk en die belangrikste, om die hele tyd met die nuutste modaliteite en tegnieke vorendag te kom,” verduidelik Lee-Anne, wat lief is vir haar vriende en die buitelewe en ook graag nuwe plekke en kulture verken.

Volgens hierdie doelgerigte sportfundi is dit belangrik om altyd jou beste te gee en na uitnemendheid te streef.

“Doen moeite om soveel as moontlik in ‘n verskeidenheid sportkodes ervaring op te doen en dan jou besluit te maak waarin jy wil spesialiseer. Skep geleenthede, stel doelwite vir jouself wat meetbaar en realisties is. Geniet wat jy doen. As jy lief is vir jou werk, hoef jy nooit weer ‘n dag in jou lewe te werk nie,” verduidelik sy.

Lee-Anne Diab is ‘n sportwetenskaplike wat al by verskillende rugbyunies, insluitend die Luiperds betrokke was.

In die toekoms sal Lee-Anne graag haar meesters- en doktorsgraad in sporthersteltegnieke om sportlui se herstel en prestasievermoëns te verbeter, wil doen, asook konsultasiewerk op nasionale en internasionale vlak.
“Ek leef elke dag voluit en waardeer die klein dinge. Ek is altyd eerlik en hou daarvan om vir myself nuwe doelwitte te stel. Ek sal ook nooit vergeet waar ek vandaan kom nie. Dit is nie wat ‘n mens vat nie, maar dit wat jy agterlaat.”

Lee-Anne se wenke in die veld van sportwetenskap:

• Wees doelgerig en pligsgetrou.
• Glo in jou vermoëns en staan vas waarin jy glo.
• Onthou jy is nooit te oud om te leer nie.
• Deel soveel as moontlik met ander sportwetenskaplikes en ruil idees uit.
• Woon gereeld sport- en mediese kongresse by om jou opleiding en kennis te verbreed.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Potchefstroom Herald in Google News and Top Stories.

wouterpienaar01

I am the editor of the Potchefstroom Herald since January 2026. I have a keen interest for sport and local community news. I have more than a decade of experience covering various beats. Journalism is a lifestyle.

Related Articles

Back to top button