Armando de Crescenzo en Micky Cloete, twee van Coalition Grappling Academy se top aanspraakmakers op Alpha MMA titels, het die knie Saterdag, 7 November, gebuig.
Beide De Crescenzo en Cloete was by Alpha MMA XI in Krugersdorp in gemengde gevegskuns titelgevegte betrokke. De Crescenzo het teen Guelor King te staan gekom, terwyl Cloete teen Vuyo Jula kragte gemeet het.
De Crescenzo het in die geveg teen King vir die Alpha MMA weltergewigtitel bewys dat hy meer as sy man kan staan en het ‘n paar goeie houe ingekry.
Hy was ook sterker op die grond, maar het hom in die laaste rondte te lank op die grond probeer verdedig, waarna die skeidsregter besluit het om die geveg volgens ‘n tegniese uitklophou te stop.
Cloete kon ook nie teen Jula deurbreek nie, met laasgenoemde wat die oorwinning teen Potch se Cloete in die vierde rondte behaal het.
Volgens Roevan de Beer, afrigter van albei vegters, kon dinge makik anders uitgedraai het. Al is die uitslae nie na wense nie, is hy steeds baie trots op sy vegters.
“Die ouens het baie goed gedoen, al het hulle ongelukkig in die kampioenskaprondtes verloor. Armando was volgens die beoordelaars voor in die laaste rondte as dit punte toe sou gaan. Die geveg is dalk ‘n klein bietjie vroeg gestop, maar dit gebeur,” beaam De Beer.
“Micky het in die vierde rondte verloor. Hy was vroeg op die agtervoet, maar het uitstekend teruggekom. Omdat ons een van die sterkste klubs is, gaan ons ongelukkig net teen kwaliteit opponente deelneem en die kleinste fout sal die een of die ander een laat verloor,” verduidelik De Beer die kompeterende aard van dié soort titelgevegte.




